Sowat ‘n week terug het ek my man se motor vir die heeldag. Ek beplan dae vooraf al waarheen ek orals sal gaan. My dag sal afskop met ‘n koffie by die naaste Starbucks, besluit ek kinderlik opgewonde. Stamford het nog nie ‘n Starbucks nie. Dis waarskynlik waarom ek steeds ‘n besoek aan Starbucks as baie spesiaal ag.
Ek vermoed ek’s Donderdagoggend Peterborough se Starbucks se heel eerste kliënt. Ek vra eers na ‘n koerant voordat ek my koffie sal bestel. Jammer, geen koerante nie, verduidelik die baie vriendelike “waitress.” Net koffie en koek en ander lekker goed. Dan sal ek eers ‘n koerant moet gaan soek, deel ek haar mee. Ek sal terug wees.
Ek stap verby twee ander koffiewinkels met koerante op my soektog na ‘n koerant vir my Starbucks bederf. En ek wonder sommer half vies waarom alle koffieplekke in Engeland dan nie koerant het nie.
Koerant vasgenyp onder die arm met hande diep in my jassakke baan ek my weg terug. Soveel drama vir koffie drink op my manier.
Ek kies my tafeltjie sekuur. Eenkant, met ‘n goeie uitsig op Peterborough wat stadig maar seker aan’t ontwaak is. Dan bestudeer ek die koffie-verskeidenheid aandagtig. Vanoggend sal ek myself nou goed bederf. Niks minder as ‘n “large” sal goed genoeg wees nie. Dan besluit ek ook sommer impulsief om iets anders te bestel as die gewone wat ek daagliks drink in die koffieplekkie waar ek werk.
Die “White Cafe Mocha” trek my aandag.
Die vrolike “waitressie” kom sit enkele minute later die sopkom 500ml “large White Cafe Mocha” voor my neer. Ek slaan eers my koerant oop voordat ek die eerste slukkie met groot afwagting neem. Ek wag immers nou al weke vir hierdie oggend. Net ek, my koerant en Starbucks saam.
My “White Mocha” slaan plotseling my asem weg. Soet is’n eufimisme vir presies hoe walglik soet hierdie drankie is. Ek is nie eens so lief vir soet nie! Maar ek ken myself, ek sal nie hierdie koffie durf los en wegloop nie. Ek sal eerder daardeur worstel…en dit nooit weer bestel nie. Ek vrek oor Starbucks, ek’s net glad nie gaande oor hul stroopsoet “White Café Mocha’s nie!”
So met die Mocha voor my wonder ek wat daar nou te leer is uit die ervaring. Dalk is dit die Bybelse waarheid…beproef alles en behou die goeie. Dalk was die oefening nodig sodat ek moet weet waarvan ek nié hou nie.
Ek dink die lewe bestaan uit twee groepe mense. Die een groep word waarskynlik verteenwoordig deur die swart geklede jongman wat skuins oorkant my gsit het met sy skootrekenaar en musiek in sy ore. Hy het ‘n swart koffie en bloubessie muffin geniet. Ek dink dis wat hy elke oggend daar gaan eet.
Of jy kan deel wees van my groep…die waaghalse. Soms word jy teleurgestel, maar jy waag steeds. En soms, net soms word jy baie aangenaam verras omdat jy bereid was om te waag.
Soos daai 68% “dark chocolate hot chocolate” by “The Pantry”. Hemels.
Comments
Post a Comment