Dis die lewe

Ons gaan gooi sowat ’n week gelede ’n draai in die Cotsworlds. Net vir een nag. Ons moet gaan groet voordat ons teruggaan Suid-Afrika toe. Broadway is immers waar ons storie saam begin. Dit was voor die “Broadway Castle” waar my man op sy knieë gegaan het om die groot vraag te vrae.

 Ons sien kinderlik uit na ons Broadway uitstappie. Ons slaap Sondagaand in die  Lygon Arms hotel, ons gaan eet aandete by dieselfde “pub” waar ons byna twee jaar gelede ook aandete geëet het. Ons drink baie glase rooiwyn en ’n soet, maar behaaglike Tia Maria na aandete. Dan stap ons in ligte reëntjies terug na ons hotel.

 En die lewe is soet. Koeksistersoet.

 Net voor ons wegraak in droomland besluit ons om net na ontbyt die volgende oggend die heuwelpaadjie aan te vat – op na ons kasteel toe. Ons sal sommer net gaan sit voor ons kasteel en die prentjiemooi uitsig bewonder. Dis so mooi van daar bo af. Ek het juis my hart op Engeland verloor daar voor die “Broadway Castle”. Van daar bo af voel dit asof jy oor die hele Engeland kan sien.

 Toe ons die volgende oggend wakker word, reën dit buite. Dit sous. My hart sak in my skoene en my man troos dat die weer binne die volgende uur heeltemal kan verander. Ek het mos nou al geleer.

 Ons gaan smul dus hoopvol aan ons heerlike “Full English Breakfast.” Na ’n stewige ontbyt, van die “black pudding” tot die boontjies, waag ons weer ons neuse buite die hotel. Maar die weer het nog niks verander nie. Niks.

 Ons besluit dat ons noodgedwonge maar sal opry na die kasteel en dan met ons sambrele sal stap tot by die kasteel toe. Ons besluit ook teen ons “sit voor die kasteel en geniet die uitsig.” Dis te koud en nat vir sit en bewonder. Wat nog te sê geniet.

 Ons stop so na aan Broadway se kasteel as wat ons kan, maar dit bly ver. Die weer is glad nie romanties nie. Ons beur teen wind en reën tot by ons kasteel. Ek kan nie eens my man se hand houvas op hierdie spesiale terugstap op ons spore nie. Ek klou paniekerig met albei hande aan my kosbare sambreel wat ek nog in Parys gekoop het. My man wil die oomblik koester, maar ek’s meer histeries as liefdevol.


 Toe ons voor die kasteel staan, ek in stryd om my sambreel te beskerm, klappertand van die koue, kom die trane sommer net so. Wat ’n volmaakte oggend moes wees, was nou so antiklimaks.

 My man is verstom toe hy sien hoe die trane sommer sulke lang swart strepe oor my gesig maak. “Ek kry so koud. Ek’s so teleurgesteld. Hierie moes so perfek en spesiaal wees.”

 Hy wys ons moet terug kar toe hardloop. “Dis die lewe,” sê hy versigtig terug in die kar. “Dis meeste van die tyd nie soos ons gedink het dit moet wees nie.”

 En dit maak nie ons lewens sleg nie. Dit maak dit interessant en opwindend.




Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep