Everything has beauty, not everyone sees it.
-Confusius-
My eerste Sondag in Kingsgate kerk Peterborough is een van
daai dae wat ek nooit sal vergeet nie. Als om my was vreemd. Pasgetroud in ‘n
vreemde land, vreemde taal, werkloos, blouver van my pa en sussies. Soos Job,
taamlik op die ashoop.
Ons het by die kerk ingestap en ‘n kleinerige, vriendelike
tannie het ons by die deur gegroet. Caroline sou ons later leer. My trane het sommer so vanself gekom terwyl ek
verduidelik dat ek nuut uit Suid-Afrka arriveer het. Ons het na die tyd saam
met haar tee gedrink en in ‘n baie onseker Engels het ek probeer gesels.
Daarna het sy elke Sondag vir ons uitgekyk by die deur. Sy
het geweet toe ek my eerste werkie in ‘n koffieplekkie kry en sy was saam met
my opgewonde en dankbaar. Sy was saam met ons opgewonde toe Kersfees nader en
ons keer huiswaarts vir ‘n somerskersfees.
Sondag was my laaste Sondag in Kingsgate. My hart was so
seer soos daardie eerste dag. Ek moes nou ‘n hoofstuk afsluit. My skoonpa sê
altyd so mooi. Dis presies dieselfde, als is net anders. Sondag in Kingsgate
was so. Die kerk was presies dieselfde as ‘n jaar terug, als was net anders.
Ek gaan stap vanoggend ‘n paadjie wat ek dikwels gestap het
tydens ons eerste weke in Engeland. Ek het heeltyd na musiek op Lambrecht se
ipod geluister. Ek wou nie mooi stories uitdink of droom soos ek so graag doen
nie. Ek wou net stap en stap om die dag korter te maak. Stap was wat ek gehad
het.
Vanoggend stap ek sonder musiek. Ek bid en ek sing
Jesusliedjies uit ons koshuisdae. Ek verkyk my aan die goudgeel canola velde.
Ek geniet die oomblik.
Ek sukkel om in die oomblik te wees. Ek sukkel om die nou te
geniet sonder om vorentoe te kyk en te bekommer. Vanoggend was ek vir ‘n
oomblik in die nou. Dis kosbaar. Die mooi was laasjaar hierdie tyd net so mooi,
maar ek het dit gemis.
Daar is mooi in alles, soos Confusius sê.
Mens moet net daarteen waak om dit nie te mis nie!
Comments
Post a Comment