Teken jy of bereken jy?


Life is painting a picture, not doing a sum.

-       Oliver Wendell Holmes Jr-



Gisteraand gooi ons alle laastes uit ons vrieskas op die rooster. Dit strek nou van varkworsies tot hoenderboudjies. Van die laaste verdwaalde volgraan pitabroodjies het ek sommer braaibroodjies gemaak met kaas en uie. Ek maak ‘n uitbundige slaai met baie olywe, fetakaas en sondroog tamaties – net om als op te gebruik.

 Ons moes gisteraand braai, want ons het nog ‘n halfsak “charcoal” oorgehad van ons vorige braaitjie. Ek sou dit weggooi of weggee. My man was beslis. Daar’s baie goed wat mens kan weggee…”charcoal” is nie een van daai goed nie. Dis vir eie gebruik.

 Die aand is bo verwagting pragtig. Die reën het vir ‘n oomblik gelig. Dis ‘n wonderwerk. Orals oor die nuus hoor ons immers dat hierdie Aprilmaand die natste in ‘n dekade was. Ek het ons gunsteling peerbier gekoop vir ons afskeidsbraaitjie.

 En so word ons onverwagse braaitjie ‘n feestelike aandjie alleen by die huis. Ons droom van ‘n eie huis en eie besigheid terwyl ons smul aan ‘n paar verdwaalde bacon kips wat ons sommer in maaskaas doop vir ‘n doopsous. Ons balanseer ons vleisbak op ons asdrom omdat ons tafeltjie reeds weggepak is. Terwyl Lambrecht die laaste hoenderboudjies afhaal, glip ek gou kombuis toe om ‘n mooi tafel te dek. Ek druk die kerse wat ek nog by ma Elize  gekry het in die blombak in ons vensterbank. Ek gebruik my laaste gunsteling pienk- en- blou blomservette.

 Dan sit ons aan by ons feesmaal. Lambrecht sit net eers gou vir Bryan Adams sag op die agtergrond vir die regte atmosfeer by die kerslig. “Dit voel amper soos uiteet,” merk Lambrecht so ewe op terwyl hy weglê aan die gemarineerde hoender (Ek het oorskiet marinade ontdek) en unieke “braaibroodjies.”

 En ewe skielik maak dit vir my sin. Die lewe is nie ‘n som wat bereken wil word nie. Die lewe is ‘n prentjie wat geteken  wil word. Die kleure op ons palet is soms nie wat ons wil hê nie, maar dis altyd genoeg om aan te hou teken. En dis veronderstel om vir ons lekker te wees. As die lewe nie meer lekker is nie, is jy besig om somme te maak – en dis nie wat God vir ons bestem het nie.

 Hy’s die groot sommaker.

  Ons hoef net te teken. En elke oomblik daarvan te geniet, want wat jy vandag, op hierdie oomblik beleef is uniek. Jy gaan dit nooit weer in jou lewe ervaar nie. Elke sekonde wat verbygaan is ‘n unieke sekonde wat nooit weer sal wees nie.




Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep