Ek haat dit om groot besluite te neem. Ek praat nou van
besluite wat ‘n inpak op nou en die volgende jaar of wat kan maak. Ek redeneer
die saak na alle kante. Ek vra raad. Ek stap ver ente en bespreek die saak
ernstig met die Here. Ek maak ‘n lys van voor-en nadele.
En dan weet ek steeds nie.
Ek bid nou al vir ‘n geruime tyd vir ‘n werk in Suid-Afrika.
Ek bid vir die Here dat ek asseblieftog al op 1 Junie wil begin en ek vertel
hom selfs die salaris waarop ek hoop. Dit moet nie sommer net enige werk wees
nie. Dit moet tog net asseblief betekenisvol wees.
Gister seën die Here my nie net met een nie,
maar met drie wonderlike geleenthede op my tafel. Ek moet egter vinnig ‘n
besluit neem. Ek stuur ‘n dringende epos na Lyndi, Wilma en my skoonmense. Ek
bel my man vir ‘n dringende gesprek en ek stuur ‘n lang sms na my
Pofaddersussie. Almal gee dadelik raad. Goeie raad.
Ek kan nie help om die Here te prys vir die wonderlike
ondersteuningsnetwerk wat Hy om my gesit het die dag toe Hy my ma weggeneem het
nie. In die verlede sou een oproep Makkiesplaas toe, na my ma toe, genoeg wees
om my te help met my besluit.
Teen teetyd stuur Lyndi ‘n ongelooflike aanhaling aan.
Blykbaar is dit iets wat Meredith op Greys Anatomy op ‘n stadium gesê
het. (Ek is amper seker dat Meredith dit ook by een of ander wysgeer geleen
het!)
You can seek the advice of others, surround yourself with
trusted advisors. But in the end, the decision is always yours and yours alone.
And when it’s time to act and you’re all alone with your back against the wall,
the only voice that matters is the one in your head. The one telling you what
you already knew. The one that’s almost always right.
Toe gaan stap ek ‘n draai en ek bly stil en ek luister net.
Soms praat mens te veel. Jy dink en ontleed te hard. En eintlik moes jy al die
tyd net stilraak en luister.
Die antwoord was toe eintlik die heeltyd dáár.
Ek moes net stilraak om te hoor.
Comments
Post a Comment