Lize se kleinkoekie liefde


Ons ses het so saam grootgeword. Die drie Van Zyltjies van Upington en die drie Nelletjies van Makkiesplaas. Junie-vakansies het die Van Zyls kom kuier. Dan het ons gaan piekniek hou in die gronddammetjie, ons het saans konsert gehou vir ons ouers, ons het huis-huis gespeel in die bosse. Die kuier met die Van Zyls het nooit opgeraak nie.

Nou is ons plotseling grootmense met kinders. Cellie (eintlik Francel) is getroud met ‘n boerseun van Groblershoop se wêreld en hul klein seuntjie, Ben, is alreeds boerseun. Ninnie (Anneen) en haar dokterman, Jurgens, woon al baie Somers en Winters in Engeland. Lize, die “babasussie” is als behalwe meer die baba. Sy en Marli, my “babasussie” het mooi grootgeword. Hulle is nou beeldskone jong vroue met sterre in hul oë.
 
Lize was kleintyd die mooiste blou oog dogtertjie, met sulke spierwit hare wat altyd wild in alle rigtings gestaan het. Haar geaardheid was soos haar hare…’n wil van hul eie. Vandag het min dinge verander. Lize het steeds ‘n sterk wil en sy is glad nie bang om  haar opinie oor die lewe te gee nie. Die dat ons seker die ander aand so gelag het vir Lize se koekiestorie. Sy vertel die stukke mos so altyd op haar Lize-manier.

 Lize was nog altyd lief vir ‘n kleinkoekie. Baie lief. Ek onthou nog goed laas jaar by Strandfontein hoe sy ses of sewe koekies ingeryg het voor tannie Elsa (haar ma) die bak voor haar weggeneem het en gesê het sy kry rêrig nou skaam vir Lize. Cellie was net so vererg met haar suster se koekielus.

 Juis oor hierdie liefde van haar, besluit Lize dat sy hierdie jaar koekies sal bak vir hul wegbreek Strandfontein toe. Maar toe sy nou Vrydagnamiddag net voor uitvaltyd oor die bakkery sit en dink voor haar rekenaar, kry sy mos nou die blink gedagte dat sy lekker geldjies kan verdien met gebak. Sy stuur toe sommer net daar ‘n vinnige epossie na ‘n paar mense om hul in kennis te stel dat sy gaan koekies bak. Sy sal Maandag ‘n pryslys aan almal stuur.

 Teen Maandag, toe Lize haar eposse bekyk, het sy reeds reuse reaksie ontlok met haar epos. Sy laat weet almal dat sy Vlakoekies, Koffiekoekies, Skurwejantjies en rolokoekies gaan bak, per kilogram.

 Lize sê en toe stroom die bestellings in. Sy kom saans moeg by die huis, en dan moet sy begin bak. Iemand kontak haar oor Hertzoggies en sy waag haar hand ook daaraan. Met groot sukses. Lize ontdek so dat sy met die spreekwoordelike goue lepel in die mond gebore is as dit by koekiebak kom! Haar kliënt is meer as tevrede oor die Hertzoggies en bestel nog ‘n keer.

 Agt-en-dertig kilogram later stuur Lize weer ‘n epos uit. Sy is nou klaar. Letterlik en figuurlik. Sy is ook klaar koekies geëet, verklaar sy beslis teenoor ons. Sy het nie ‘n benul gehad koekies bevat soveel botter en suiker nie. Het ons ‘n benul hoe vet koekies maak, vra sy ons met groot oë.

 En nee, sy het toe nooit koekies vir die huis gebak nie. Sy was te gatvol vir bak teen die tyd toe sy die huis sin moes bak. Sy’t eenvoudig gesê haar ma moet sommer by die tuisnywerheid gaan koop. Sy wat Lize is bak nou nie ‘n enkele koekie verder nie!

Comments

  1. Sune ek het nou histeries gelag!!!!! Soooo funny! Ek ek kan beaam dat lize se hare en persoonlikheid nog altyd ooreengestem het!

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep