Sub.A'tjie in die koshuis
Vier-en-twintig jaar gelede, min of meer
hierdie tyd, is ek vir die heel eerste keer koshuis toe. My pa en Ma het my in
my geruite blou en wit skoolrokkie na my Sub.A klas geneem. Juf. Marlene van
Schalkwyk was die juffrou. Die skool het ook op ‘n Woensdag begin. My skooltas
was van daardie boks nommers, navy blou met ‘n uitspattige pienk streep teen
die kant. My kosblik was helder geel en my naam het my ma op die deksel met
cutex geverf. Pienk cutex. Suné Nel.
Ek en Marné Stadler was die enigste Sub.A’tjies.
Rainette, haar veel ouer suster, was ons engel. Sy het soggens kom kyk of ons
beddens opgemaak is en ons hare gekam. Myne was maklik. My ma het geglo ‘n
koshuiskind moet kort hare hê. Marné sin was ‘n pragtige poniestert. Sy het
byna elke oggend gehuil as Rainette eers met haar hare begin.
My ma het my klere op netjiese hopies in my
koshuiskas gepak. ‘n Stelletjie vir elke dag. Ek moes net elke dag ‘n stelletjie afhaal van die hopie en
aantrek. My naam was agter in my nek vasgewerk. Swart op wit. Suné Nel. Belangrike telefoonnommers is in my kas
opgeplak. Dit was in my ma se handskrif op geel karton. My beddegoed was ‘n
aaklige blou duvet met gekleurde strepe. Ek was kleintyd so skaam oor my blou
duvet tussen die pienkes, maar ek weet my ma het dit so billik op ‘n
uitverkoping gekry dat sy dit nie kon los nie.
Ons staalkaste is toegesluit met slot en
sleutel. Ons kleintjies het maar die sleutels om ons nekke gedra met tou. Die
ander opsie was om jou sleutel weg te steek. Maar as jy so klein is vergeet jy
of jy dit vandag in jou kussingsloop of onder jou tissues in jou tissueboks
versteek het.
Ek onthou die huistoe verlang en die
kollekteeroproepe Makkiesplaas toe. Ek onthou die mismoed as jy Maandagmiddag
van die skool af koshuis toe stap en weet daar lê nog ‘n heel week voor. Of nog
erger, as jy Sondagaand op jou pa se skoot sit en hy probeer verduidelik hoe
vinnig vier slapies eintlik verbygaan.
Marné herinner my anderdag van die een aand
toe ons twee die slaapklok tien-uur die aand verwar het met die opstaanklok.
Ons het verward by Rainette opgedaag etlike minute later – netjies aangetrek in
ons skoolklere, gereed vir die hare kam episode. Die hele koshuis het die
volgende dag die storie geken en almal het gedink die twee Sub.A’tjies is vrek
snaaks.
Dis amper so erg soos die waterpokkies wat
ek onwetend gehad het. Ek en Marné het saans saam gebad. Een spesifieke week
jeuk my rug saans so dat dit voel of ek wil mal raak. Marné het fluks help
krap. Daardie Vrydag ontdek my ma eers my waterpokkies en ‘n week later het die
hele onderste gang van die koshuis waterpokkies.
Koshuis was darem nie net sleg nie. Daar is
ook soveel mooi om te onthou. Ek weet net regtig nie hoe jy jou Sub.A kind
aflaai by ‘n koshuis nie. Hemele behoed my dat ons eendag ons Amé-kind in die
koshuis moet sit in Sub.A. Ek is ‘n swak ma. Ek sal dit nie maak nie.
My pa vertel van daardie eerste week met my
in die koshuis. Hulle het daardie Woensdag en Donderdagaand by tannie
Elsa-hulle in Upington gaan slaap sodat hulle darem nie so vreeslik ver is nie.
Hy sê saans het hy en my ma maar so langs mekaar lê en huil oor hul eersteling
in die koshuis. Dis ‘n anderster erg.
Comments
Post a Comment