Oupa-en Ouma kuier



My pa-hulle woon in die Boesmanland, iewers tussen Pofadder en Kakamas. Dis juis hier waar Amé nou haar eerste Kersfees sou deurbring. Ons het haar oudste klere, grootste hoed en hoogste sonfaktor sonskerm ingepak vir hierdie plaaskuier by Oupa en Ouma.  Dis tog vreemd om te sien hoe mens se pa nou uiteindelik nie meer net “pa” is nie, maar ook “oupa”.

Oukersmiddag sit Oupa se eerste kleinkind op sy been buite op die stoep. Die twee is in ‘n ernstige gesprek gewikkel. Dan sien ek hoe oupa ‘n teelepel vol melktert in Amé se gretige mondjie sit. Sy is nog net nege maande oud, maar daar is niks fout met haar eetlus nie.  As ‘n teelepel nader kom eet sy graag. So hoor ek later dat Oupa sy kleinkind amper die helfte van sy tert gevoer het. Tot my onsteltenis! Sy verweer is eenvoudig dat sy darem nou só lus gelyk het vir ‘n ou stukkie melktert.

Saans is ‘n ander storie. By die huis probeer ons werklik ons bes om ‘n roetine te hê wat ons soos die Bybel volg. Iewers saans wil ‘n mens tog net ‘n bietjie soos grootmense ‘n grootmensgesprek voer. Daarom dat poplap klokslag wanneer Binnelanders begin, gebad en gepap en gebed word.

Sy slaap nooit dadelik nie. Daar is maar altyd ‘n mate van ‘n ongelukkige gekla voor sy sag droomland binnevaar.

Die gekla is meer as wat Oupa kan hanteer. Sy hart wil breek, verduidelik hy. So gedurende die tien dae by Oupa en Ouma, gaan sit ek Amé slaaptyd in haar bedjie.  En elke liewe aand, sowat tien minute later, kom stap Oupa met haar uit die kamer uit. Dan lyk die tweetjies so tevrede met hulself.

Binne tien dae ruïneer Oupa die roetine waaraan ons so streng werk die laaste ses maande. “Oupa se voorreg,” verklaar hy eenvoudig.

Oupa laat haar aan die baba bokkies vryf. Oupa kan ‘n bokkie selfs perfek na maak. Oupa neem haar ‘n draai op die vierwiel motorfietsie en Oupa laat haar, haar eerste waatlemoen proe. Dis ook Oupa wat haar skelmpies malvalekkers voer terwyl mamma vir ‘n oomblik anderpad kyk.

Ons poplap speel vir die eerste keer in die sand. So tussen die speel deur moet ons net keer, want sy wil handevol daarvan in haar mond druk. Sy speel tot haar gesiggie die ene sand is en daar so sandlagie onder haar naels sit.

Ons kind straal op die plaas. Ons vat haar smiddae vir ‘n swem in die klipdam en vroegoggend vir ‘n stappie op die grondpad verby die huis. Ons sit haar op die gras neer en sy verkyk haar aan die skaaphonde. Ook die vrolike voëltjies in die bome maak haar baba hart gelukkig.

Toe ons uiteindelik moet groet, is Oupa se hart gebroke. Wanneer sal hy nou weer sy ver kleinkind sien. As hy haar weer sien praat sy seker al regte woorde en gee regte treetjies. Oupa vee groot trane af toe hy sy kleinkind groet. Sy verstaan nie die afskeid nie. Sy glimlag tog breed en gelukkig toe Oupa vir oulaas soos ‘n boklam blêr.

 

Comments

  1. Liewe Surra
    Nou die dag soek ek in Griet se resepteboekie die Rice Krispie resep wat ek vir Marli wou maak voor sy teruggaan Potch toe en kom toe op onderstaande gesegde af wat my dadelik aan hierdie skrywe van jou laat dink het.
    "Waar ons gaan stap met ons tweejariges in hulle rooi steweltjies,
    en waaroor ons met hulle gesels,
    het veel te doen met watter waardes hulle sal hê
    wanneer hulle groot is" ~ Edith Hunter ~
    (Huiskos - bl 46)
    Lief vir julle
    TTers
    xxx

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep