MetroPlus na Simonstad
My Winita-buurvrou sê vroeër die week, sy is lus vir treinry
Simonstad toe. Haar suster het dit al gedoen en dis blykbaar ‘n heerlike
uitstappie. Van Simonstad se treinstasie hop ons op ‘n bussie na die duikboot,
genaamd die Assegaai, wat in Simonstad se hawe lê.
Ek en Michelle laat ons nie twee maal nooi nie. Ons stig ‘n
whatsapp groepie, “Trein na Pretoria,” en begin reël verwoed. Genadiglik deel
ons mans ons drie se entoesiasme.
Saterdagmôre op die kop 8-uur ry ons drie gesinne se motors
in ‘n konvooi na Muizenburg se treinstasie. Winita verduidelik by die stasie
aan haar man dat ons asseblief met die MetroPlus wil ry. Dis duurder en luukser
en veiliger. Die stasie is nog stillerig. Daar lê nie rommel rond nie, en
niemand lyk gevaarlik nie. Klein Matthew lyk asof die hele opset hom laat gril.
Terwyl hy hand-aan-hand met mamma Michelle na ons wagplek stap, fluister-vra hy
of hulle asseblief dadelik sy skoene kan was as hulle by die huis kom.
Die trein ry langs die kus. Die uitsig is prentjiemooi. Dit
maak jou trots op jou eie plek. Jou wortels. Jy hoef nie oorsee te gaan soek
vir natuurmooi nie. Dis hier volop. Ons is skaars uit Muizenburgstasie, of die
hongerte oorval klein Matthew. Die treinrit is so lekker dat hy skoon vergeet
van die vuil en kieme. Sy ma het sommer vir hom ‘n Clickssak met snacks gepak,
spog hy. Ses-jariges kan vreeslik eet, verduidelik sy ma. Matthew is nie suinig met al sy lekkernye nie. Nie
lank nie, of die twee babas, Amé en Alexander smul aan baba tennisbeskuitjies.
Ook Jané word mildelik beloon uit die Clicks-sak. As die kinders gelukkig is,
is die ouers gelukkig.
Ek hoor die mans vertel “Jonothan van die Oosrand grappies.”
Ons vrouens giggel oor onbenullighede en die kinders eet tennisbeskuitjies. In
die graffiti bekrapte trein oppad Simonstad toe. En die lewe is sommer net goed
.
Die ritte na die Assegaai is ongelukkig vol bespreek vir die
dag, verduidelik ‘n baie professionele jong meisietjie. Winita is bitter
teleurgesteld. Die drie manne sal iets gaan reël, stel hulle haar gerus. Etlike
minute later is Jaco, Lambrecht en Darius terug. Die Assegaai wag vir ons.
Reggie sal ons met die bussie kom laai vir die besigtiging van een van
Suid-Afrika se eerste duikbote. Ons is uit ons nate.
Reggie is ‘n Capie. Hy laaik ons, kom ons sommer vinnig
agter. Hy doen moeite om ons na die tyd by ‘n restaurant af te laai, en weer op
te laai vir stasie toe neem na die tyd. Ekstra gunsies, uit die goedheid van sy
hart.
Die teruggaan is minder vredevol. Die stasie is taamlik vol.
Selfs die MetroPlus het ‘n paar ongure karakters op ons pad terug. Twee kinders
spring skelm in hul swembroeke in ons kompartement. Die een hardloop amper vir
kleine Matthew van sy voete af. Darius gluur hul so gevaarlik aan dat ek selfs
senuagtig raak. Die treinkondukteur sien gou hulle is nie die MetroPlus tipe
nie. Sy laat hulle eenkant staan en vertel hulle goed hul fortein. Ek hoor
hulle antwoord net so “Ja antie, is so antie,”as sy tussendeur asemskep.
Ons trein stop rondom 4-uur weer by Muizenberg se stasie. Ons
is in ‘n uitbundige bui. Jané maak balletdraaie op die platform so met ons
afklimslag. Matthew worry glad nie meer oor die kieme op sy skoene nie. Amé en
Alexander het sweetdruppeltjies op hul babaneusies, want die Kaap is warm. Maar
ons is gelukkig.
Die Wes-Kaap is ‘n goeie plek om te bly…
Comments
Post a Comment