Vonkel in die huwelik


My man het Dinsdag verjaar. Een van sy kollegas het anderdag gesê dat jou verjaarsdag net so spesiaal is as wat die mense rondom jou dit vir jou maak. Ek wou my man ‘n onthou-verjaarsdag gee.

 Maandagmiddag bak ek vir hom ‘n sjokoladekoek om die volgende dag werk toe te neem. Die koek breek effens aan die bo-kant en ek moet kreatief dink om dit te red. Vier “whole nut” sjokolades later lyk die koek gereed vir kantoor toe gaan. Ek bak ook Micha se soutkolwyntjies. Amé is later baie moeilik. Sy gly rond op die kombuisvloer – op die piesang wat sy moes eet. Sy trek haarself teen my op met smerige handjies en ek en die vloer lyk later ewe erg.

 Ek oorspandeer heeltemal op ‘n verjaarsdaggeskenk en verras my man met ‘n elektrise boor. Hy is Dinsdagmôre byna giggel opgewonde oor sy nuwe boor. “Dis mos nou ‘n geskenk vir ‘n mán”, hoor ek hom met homself praat.

Ek trek ‘n gewaagde kort rokkie en ‘n paar hoë sandale aan vir “cocktails” saam met my man. Ek spuit oordadig baie van sy gunsteling parfuum aan en laat loop met die lipglans. Toe manlief by die voordeur stop na sy werksdag, voel ek jonk en verleidelik. My Lyndi-vriendin sal Amé in die bed sit sodat haar ouers kan vier.

Ons gaan drink drankies by Primi. Ons is weer verlief. Ons koer oor al ons mooi tye saam en droom oor die toekoms. Ons kyk diep in mekaar se oë en sien mekaar vir ‘n slag weer ráák. Ons drink ‘n “jam jar” so saam-saam met strooitjies en praat nie een keer oor ons dogtertjie of ouerwees nie. Ons is sommer net ons.

Daarna gaan koop ons vis en chips by die “take away” plek reg langs Goede Hoop slaghuis. Dit was my man se keuse. Ons sou aanvanklik by ‘n fênsie restaurant gaan uiteet, maar dinge werk nie altyd uit soos jy dit wil hê nie. Lyndi ry dadelik na ons by die huis gekom het. Ons kind is snaaks en oulik en mooi in roetine, komplimenteer Lyndi ons. Ons kan haar soen vir die guns wat sy vir ons gedoen het.

Toe, net terwyl ek die borde uithaal, en Lambrecht besluit watter DVD ons sal kyk, hoor ons ‘n stemmetjie van bo af. Dis eers net ‘n ligte huil wat mens kan ignoreer. Dit raak egter later indringend en histeries. Toe is ons eersteling wawyd wakker toe ons in haar kamer kom. Sy lyk selfs uitbundig om ons te sien.

So kom my man se verjaarsdag toe tot ‘n vinnige einde. Amé wou nie weer slaap nie. Ons moes ons kos beurt-beurt eet en die DVD afsit. Dalk wou sy net saam vier? Toe ons uiteindelik bedtoe toe gaan, is  ons albei vodde. Dit was nou regtig ‘n lekker verjaarsdag sug Lambrecht voor ek aan sy asemhaling hoor hy slaap.

         Ouerwees is suiwer “magic” en uitdaging en pret. Dis tog nodig om soms jou lippe blink te      
         maak en oordadig parfuum te spuit vir alleen wees met jou man. Net julle twee. Nie by jou
         huis  nie. Iewers anderster, want by jou huis sien jy stof en skottelgoed en die gras wat 'n sny
         kort. Op 'n ander plek. Dit sit weer die vonkel terug in jou huwelik!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep