"Speedcop" storie


Dit gebeur vandag weer vir die eerste keer in jare. Toe ons motor stop voel my handpalms sweterig en ek kyk benoud rond. Lambrecht lyk effe uit die veld geslaan. “My engel, is iets fout?” wil hy versigtig wees.

 Ek skud my kop, want die “speedcop” is klaar hier langs my man se venster. Hy is effe aan die swaar kant, soos hulle meestal maar is. Sy stem is saaklik. Hy soek my man se lisensie. Hy gee die lisensie ‘n verdagte kyk, stap een maal om ons motor, gee die lisensie terug en sê: “Alles is in orde, u kan maar ry.”

Ek voel hoe die spanning uit my ledemate sypel terwyl ons wegry. My man verstaan glad nie wat aangaan nie.

Ek begin vertel hom hoe spanningsvol dit destyds was as ons die “speedcop” in die verte gewaar tussen Upington en Kakamas. Hy het altyd die slegte manier gehad om ons te betrap op ons pad terug. Dan was ons almal uitgeput en warm. En voertuie het nie van altyd af lugverkoelers gehad nie!

Sodra ons hom in die verte gewaar het, moes almal eers worstel om hul “safety belts” aan te kry. Dit was drama genoeg om die sweet op ons voorkoppe te laat uitslaan. Sien, ons het nooit ons “safety belts” gebruik nie. As  jy nie die goed gebruik nie, stof hulle letterlik vas. Dan is dit nie ‘n grap om dit weer in ‘n werkbare toestand te kry nie. So, terwyl elkeen sy stryd stry om sy “safety belt” aan te kry, sou my pa benoud verklaar dat sy linkeragter flikkerlig ook nie werk nie. Hy wou dit nog gister regmaak, maar daar was nie tyd na hy die twee onverwagse papwiele reggemaak het nie. Dis hoekom hy heeldag so met sy arm by die venster uit rigting aangedui het. Dit het eintlik baie goed vir hom gewerk, sal hy dan nog byvoeg.

Ons moet tog net die oom vriendelik groet asseblief. En ons moet bitter moeg lyk. My ma was altyd kwaad. “André, moet nou nie probeer geselsies maak met die “speedcop” nie. Ons is moeg en haastig. Jy was verkeerd. Vat net die ‘fine’.”

My ma  kon dit netsowel vir die gebreekte flikkerliggie gesê het.

Met die stopslag al was ons almal ‘n bol senuwees. Die “speedcop” moes dit beslis optel. O ja, en ten spyte van groot gesukkel, wou my pa se “safety belt” nie loskom om vas te maak nie. Dit is dus sommer die heel eerste redenasie. Die “safety belt” laat my pa kwansuis nie veiliger voel nie. Hy weet blykbaar van baie mense wat “safety belt” en al verongeluk het. Dis toe blykbaar ook nie net die linkeragter flikkerlig wat foutief is nie…

My pa en die “speedcop” praat lank. Ons kan nie alles hoor nie. Ek hoor egter definitief hoe my pa die “speedcop” Boesmanland toe nooi sodat hy kan sien hoe ons paaie lyk. My pa was nou self geskok toe hy sien van die agterflikkerig wat nie werk nie. Hy is amper doodseker dit was vanoggend nog piekfyn. Nou dis nou presies wat die slegte paaie doen. Die regering wil ook niks aan die saak doen nie. Boere suie maar alewig aan die agterste speen, sluit my pa altyd sy mismoedige storie af.

Hy is altyd “losgelaat” met net ‘n boete vir sy “safety belt”. Dan was my pa nie ‘n bietjie trots op sy goeie oorredingsvermoë nie. Teen die tyd dat boete geskryf is en ons weer oppad, is ons al bewerig van senuwees!

         Nou verstaan hy heeltemal, antwoord Lambrecht na my hele storie. Maar ons bly nie in die
         Boesmanland nie. Ons paaie skud en stof nie. Ek kan maar net ontspan as die “speedcop” ons   
         verras! Rerig.

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep