Die vreugde van Moedersdag


EK’s in ‘n baie diep graf of groef of watter misrabele benaming jy ookal my toestand wil gee, vertel ek aan my vriendinne. Wilma en Lyndi giggel net terwyl hulle teug aan hemelse soet Hazelnut lattes en luister na my stories. Hulle weet ek kan soms ‘n bietjie dramatiseer. My Marietjie-sussie lag so hard dat ek nie kan help om later saam te lag nie.

Vrydagaand is ek verby my rooi kwik toe manlief tuiskom. Hy het ‘n uitstekende dag op kantoor gehad. Uitstekend man. In vergeleke met sy dag lyk myne nog váler en chaotieser. Ek drink Vrydagaand meer as my een ou glasie erg verdunde witwyn. Dit help ‘n bietjie. Terwyl manlief ons oudste in die bed sit, ruim ek kombuis op. Ek het heelweek so mooi gesond en gebalanseerd en gefókus geëet. En toe, op my broosste uur van die week verloor ek my selfbeheersing heeltemal. Ek smeer dik appelkooskonfyt op die halwe kaasbraaibroodjie en verorber dit op die laaste note van Noot-vir-noot. Toe vaar ek die lekkergoedkas in. Gevaarlike ding om vrou-alleen op ‘n Vrydagaand te waag. Jy’s gewaarborg om jouself teleur te stel.

Saterdagoggend staan ek op. En ek voel nie lekker nie. Ek voel elke malvalekker en stukkie sjokolade daar waar ek dit nie wil voel nie. Saterdagnamiddag kry ek kans om oor my lewe te dink. Op die toilet. Dis immers die enigste plek waar ek nog dinktyd kry. Soms. Ek’s ‘n huismamma in elke sin van die woord. As ek ordentlik aantrek en grimeer weet my kinders ons gaan iewers heen. Dit raak regtig vir my moeite om uit my huis te gaan. Ek wil sommer net hier wees…besig om kos te maak, skoon te maak, met die kinders te speel, of te oorleef.

Ek vertel dit alles vir Marietjie. Sy vermoed dis seisoenale depressie. Hulle het net daardie oggend daaroor op RSG gepraat. Dit is die rede vir my eetlus ook.

Vandag is Moedersdag. Uiteraard maar altyd ‘n moeilike dag op die kalender van die wat nie meer mammas het nie. Manlief kom maak my wakker met soet koffie, ‘n roos en die mooiste briefie van hom en ons dogtertjie af. Hy wil hê ek moet vandag kerktoe gaan. Alleen. Sonder man of kinders. Ek skop eers teë. Ek kry nie die skuldgevoel afgewas in die stort nie. Maar Lambrecht bly baie beslis. Hy gun dit vir my.

Nou weet ek: God het vanoggend ‘n afspraak gehad met my. Hy wil my gróót en eerste liefde wees. Iewers tussen al my pligte en lysies het dáárdie stukkie waarheid verlore geraak. Ek huil skaamteloos in die kerk vanoggend. Mens het die wonderlike manier om die leeg binne in jou vol te probeer maak met leë dinge.

Môre is ‘n nuwe wonderlike dag. Ek’s oor my seisoenale depressie Marietjie. RSG moet tog die mense vertel dat mens die mooi van die draai van seisoene moet omhels. Lyndi en Wilma, ek vra op papier omverskoning vir gister. Volgende keer is ek beslis nie weer so ‘n swak vriendin nie!

Niks, niks, niks behoort so belangrik te wees as tyd met God nie. Al is dit 3 minute van die 1440minute in jou dag. Maar dan moet dit nét aan hom te behoort. Nie terwyl jy besig is met jou eie dinge en gedagtes nie!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep