Moedersdag van Pofadder tot Wellington


Ek het règtig ‘n wonderlike man, besef ek hierdie Moedersdag weer. Ons beplan al van Maandag af aan Moedersdag. Eers wil ek iewers gaan eet vir Moedersdag. Teen Woensdag is ek nie meer lus vir uiteet nie. Ek wil eerder iewers gaan piekniek hou. Iewers nie te ver van die huis af nie. Teen Vrydagmiddag 5-uur wil ek eerder sommer net in ons agtertuin piekniek hou. Dis die heel minste moeite.

Saterdag bied manlief aan dat ek ‘n bietjie met sy bakkie rondry. Ek kry twee vriendinne vir ‘n laat ontbyt en teen die tyd dat ek tuiskom, is manlief al haastig dorptoe. Hy kom stert tussen die bene terug huistoe. Geen winkels is meer oop nie. Net Wellington se videowinkel.

Vanoggend is hy erg verleë oor sy liefdesbriefie wat net op lyntjiespapier geskryf is. Dis die mooiste briefie en ek is sommer opnuut verlief op my goeie man. Hy gee Amé ontbyt en ruil ‘n aaklige doek om terwyl ek by die kerk is. Hy maak Daniël aan die slaap en hy vee ons leefvertrek uit en mop dit daarna. Ek stap dus na kerk by ‘n huis in met twee gelukkige kindertjies, ‘n netjiese èn skoon huis.

Namiddag wil ek ‘n draaitjie ry, waarsku ek al van Vrydag af. Nie Wellington of die Paarl nie. Dit moet nog verder wees. Terwyl ons vanmiddag piekniek pols hy my…waarheen wil ek ry? Ek moet net die woord spreek. Ek het al lank so begeerte na lughawe toe gaan. Ek vrek oor ‘n lughawe. Die energie is mos amper tasbaar. Dis so opwindend. Almal is oppad êrens heen – verder as sommer net ‘n draaitjie se ry. Of hulle arriveer, of kom kuier, of groet, of, of, of. Manlief háát ‘n lughawe. Genoeg daarvan al gehad in sy lewe, verduidelik hy altyd heftig. Maar vanmiddag gaan ons lughawe toe – net omdat èk wil. Ek wil ‘n soet Woolworths-koffie bestel en in die lokaal gaan sit waar mense arriveer. Ons moet vir Amé ‘n vliegtuig wys en ons moet mense kyk.

En my dierbaarste stem heelhartig in. Omdat hy my liefhet.

Ek bel my Marietjie-sussie by Pofadder om te hoor wat hulle vir die spesiale Sondag beplan. Sy het Vrydag al vir haar man gesê – haar enigste behoefte vandag is om níé ‘n mamma te wees nie. Sy wil nie weet sy het een kind en een oppad nie. Sy wil net vir een dag weer sy wees. Sonder huislike pligte en verpligtinge. Sy wil nie ‘n enkele doek omruil nie. Ook nie ‘n poefdoek nie. Sy wil nie kosmaak nie. Sy wil net wees. Haar man het blykbaar lank en aandagtig geluister en toe nog langer stilgebly. Mag hy eers oor haar voorstel nadink? Sy maag is mos so sensitief met doeke…

Dit moes ‘n baie moeë moeder met meer as een kindjie wees wat destyds aan die gedagte van ‘n Moedersdag gekom het. Mens behoort ‘n glasie te klink op so wyse vrou…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep