Die groen vullislorrie oom...


Smiddae is ons groot kuiertyd. Dan maak ek seker alle wasgoed en skottelgoed en huisgoed is afgehandel vir die dag. Dis spesiale piekniek-op-die grastyd, of sandspeeltyd of stap-om-die bloktyd en dan vergader ons klippies en blare en blommetjies.

Dinsdag maak ons weer so. Ons land egter perongeluk agter die vullislorrie. Amé kan haar geluk nie glo nie. Eers wil sy weet wat dit is. Ek verduidelik dat dit ‘n vullieslorrie is. Dan herhaal sy “lollie” byna ‘n miljoen keer om die nuwe woord op haar tongetjie te voel. Die hoogtepunt kom toe sy die oom voorin die lorrie gewaar. Dis ‘n oupa, moes sy sekerlik tot haar eie slotsom kom. Sy lang baie grys poniestert verklap dit. En die baie diep lyne op sy gesig. “Hallo oom,” gil Amé opgewonde voor ek kan keer. En sy waai wild met haar klein handjie. Toe hy terugwaai en glimlag begin spring sy skoon op-en-af van opgewondenheid. Nou gil sy herhaaldelik, “Hallo oom,” terwyl sy uitbundig bly waai. Die volgende oomblik druk hy liggies op die lorrie se toeter.

Hy maak my kind se dag. Die grys oom in die groen vullislorrie.

Ons baan ons weg na die hoop sand so in die een hoek van ons kompleks. Ek dink nie iemand weet daarvan nie en ek dink nie iemand kom ooit daar nie. Behalwe die Coetzees. Ons pak koekies en koeldrank en dan gaan piekniek ons gereeld op ons geheime hoop sand. Oppad terug pluk Amé ‘n bossie goudgeel onkruidblommetjies. Ek wag dat sy dit vir my gaan gee, maar dit gebeur nie. Ons stap verby ‘n vreemde huis met ‘n vreemde ouma-tannie met baie rooi lippe, oppad iewers heen. Amé hardloop sonder waarskuwing reg op die tannie af. Bossie onkruidblommetjies in die hand. “Tannie,” sê sy en steek die handjie blommetjies na die tannie uit. Ek gewaar die absolute verbasing op die tannie se gesig. Sy buk op haar hurke en sê baie dankbaar, “Dankie my kind. Baie dankie.” Amé huppel tevrede weg. So asof sy iets wat op haar hart gedruk het, suksesvol afgehandel het.

Ek staan verstom.

Ek het dit verloor. Daardie absolute spontaniteit om te reageer op die stemmetjie wat sê dat jy uitbundig vir die vullislorrie oom moet waai, of blommetjies vir ‘n vreemde tannie moet neem.

Want wat sal die mense nou dink?

En wat maak dit eintlik saak. Ek het Dinsdagmiddag by my dogtertjie geleer, ek’s hier om ‘n verskil te maak. Die kleinste gebaar kan iemand se dag maak. Ek moet maar net gehoorsaam wees aan my “stemmetjie.”

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep