Swaer Stan van Millerton


As jy my swaer, Stan Miller, al ontmoet het, sal jy dit beslis weet/onthou. Hy’t ons lewens op ‘n Oujaarsdans binnegedans. Hy en my middelsus was oppad na St.8. Daardie aand het hy ‘n paar danse met haar gedans en toe die jaar oorslaan na ‘n nuwe een, het hy haar gepiksoen en toe gevra om te kys. Sewe en ‘n bietjie jare later is hulle getroud. En vandag is die tweede meisiekind oppad…

Terwyl ek wasgoed ophang tydens my plaaskuier op Millerton, besluit ek dat Stan Miller se storie opgesom op papier hoort. Stan is immers nie jou standaard ou op straat nie. Beslis nie.

Stan verlaat die skool in St.8 om te gaan boer. (Tog het hy die wilskrag gehad om so op sy eie sy matriek steeds deur die pos te voltooi.) Vra jy hom uit oor daardie beginjare op die plaas, alleen en eintlik nog soveel kind, lyk dit asof hy self wonder hoe hy dit gemaak het “sonder die vrou”. (Menende sý vrou) Hy’t baie aande maar ‘n pak chips en liter Coke geniet vir aandete. Daai tyd was daar nog nie sonkrag nie. Hy het baie boeke gelees, sommer maar so by kerslig. Sien, hoewel Stan nooit verder gaan studeer het nie, of oor die waters gaan ondervinding opdoen het nie, is hy ‘n slim man. Stan is gebore met ‘n nuuskierige siel wat uitvrá en regtig belangstel. En hy hou baie van lees!

Stan het ‘n baie spesifieke roetine wat elke oggend streng gevolg word. Eerste ding wat hy doen na hy aangetrek is, is koffie en ‘n Chesterfield filter op die stoep, of in sy kantoor. Die laaste sluk is nog warm in sy maag voordat hy sleep vir die toilet. Man moet mos eers ordentlik detoks voor jou dag begin. Stan beskryf dit net in duideliker Afrikaans. Dis elke liewe oggend se storie. Die ritueel neem sowat ‘n uur. Wanneer my sussie-hulle 5-uur wil vertrek op vakansie, moet Stan alreeds 4-uur opstaan sodat hy genoeg tyd het vir sy ritueel.

Stan is ‘n goeie pappa. Dissipline lê hom na aan die hart. Kleine Anmari (2) waag nie terugredeneer met haar pappa nie. Marietjie raak nooit self te kwaai nie. Sy dreig net met Stan…”Anmari, as jy nie nou luister nie, gaan roep ek vir Pappa.” En dan lúíster Anmari. So van Anmari gepraat – Stan het fluks help doeke omruil tot op ses maande. Toe Anmari begin menskos eet het hy summier gestop met poefdoeke omruil. “Want nou ruik Anmari se doeke na mensstr@nt.” (Jammer vir die taalgebruik. Ek moet die waarheid praat as ek van Stan praat. Hy’s ‘n man wat glo aan waarheid praat.) Volgens Stan het hy maar ‘n sensitiewe maag. Hy’s nie goed met reuke nie!

Stan werk hard. Hy kom dikwels nie eens middagete huistoe nie. Maar as die son saans sak, is Stan vasgenael vir al sy gunstelinge op Kyknet. Dis nou van Nommer asseblief tot Wild en Wragtig. Hy is ook ‘n groot Binnelanders kyker. Ander aand wil die twee niggies hê hulle poppe moet op Stan se skoot sit terwyl hy sy stories kyk. Dan word die “babas” in stootkarretjies verby die tv gestoot en Stan moet konsentreer om sy programme te kan kyk. Volgende oomblik hoor ek hom net bulder – “Vanaand m*@r ek nou vir julle tweetjies. EK kan nie eens vir Binnelanders geniet nie.” Die twee het bitter vinnig ‘n ander speelplek gaan soek.

Stan glo in goed eet. Hy eet nie ontbyt nie, maar smiddae en saans soek hy ordentlike kos. Vleiskos. Jy beïndruk nou regtig nie vir Stan met tuna en pasta en sulke tipe kos nie. Om die waarheid te sê – dit tel nie eens vir hom as kos nie!

Stan is ‘n groot aanhanger van Afrikaanse musiek. Hy luister dit ook hárd in sy spierwit Legend 45 Toyota bakkie. Die besigheid moet behoorlik klop! Anmari hou al net soos haar pappa van harde Afrikaanse musiek. Sy steek sommer armpies in die lug op om lekker ritme te hou. Ek voorspel sy gaan op die dansbaan bly as sy nou net eers oud genoeg is om saam te dans by Pofadder se Oujaarsdans en jaarlikse skou.

Natuurlik sal Stan graag ‘n naamgenoot wil hê om op die erfgrond, Millerton, oor te neem eendag. Maar hy weet nou nie meer so mooi nie. Kindersgrootmaak is nie ‘n grap nie. Nou gaan hulle twee meisiekinders hê. En sê nou net daai derde probeerslag is ‘n tweeling meisiekinders. Nee, hy weet nie meer so mooi nie.

As jy Stan nog nie ontmoet het nie, kan jy spyt wees. Millerton is nie ver uit Pofadder nie. Jy sal hom geniet. Hy sal Marietjie vinnig-vinnig vra om die koffiewater op te sit. Dan sal Marietjie julle bedien met koffie en tuisgebakte beskuit op hulle stoep. Stan sal jou hele “pedigree” uitvra. Dalk selfs tot by wat jou salaris is. Want Stan vra graag en hy luister mooi. En dan sal jy sy stories baie geniet. Baie.

As jy lank genoeg bly, nooi Stan jou dalk vir ‘n braai. Met brandewyn en Coke natuurlik…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep