Kakamas se eerste KFC


Netnou SMS my Marietjie-sussie opgewonde – Sondag maak KFC in Kakamas oop. Die dorp is omtrent opgewonde!

Voor ek myself kan keer is ek terug in Kakamas – tóé. Die dae toe KVK die enigste winkel was waar my pa en ma kon gaan groceries koop. Toe kon ek met R4 ‘n pakkie Simba chips en ‘n Ceres sappie koop. Daar was nog nie ‘n spoggerige groot apteek met als van medisyne tot boeke en geskenke soos vandag nie. Daar waar die apteek nou staan was ‘n kafee. Dit het aan die Tzorvasse behoort. Hulle was ‘n klomp mooi broers – donkerkoppe met sulke diep sjokoladebruin oë. Marietjie was in die laerskool gekys met een van daai boeties. Ek onthou hoe hy eendag vir haar ‘n magnum roomys in sy skooltas skooltoe gebring het. Ons was almal erg beïndruk…

Oom Callie en tannie Christa het ‘n ongelooflike groentewinkel gehad. Ek dink die naam was Wolwehoek. En as ek reg onthou het daar altyd sulke lekker boeremusiek gespeel. Die atmosfeer was héérlik en die diens en groente van uitstaande gehalte. Ek onthou so een slaaitjie wat my ma soms vir my en haar daar gekoop het. Groot bederf. Dit was noedels en opgesnyde worsies en kaas en baie mayonnaise en ek’s nie seker wat nog nie, maar dit was super!

Ek onthou die Christelike Boekwinkel. Ek onthou die tannie en oom aan wie dit behoort het. Ons het gereeld vir mekaar daar bybelversies gaan koop – daai met die prentjies en ‘n een sin versie daarop. Ek het vandag nog ‘n bybel vol daarvan. Van Wilma af. En Marné. En Caren. En my sussies. Goeie tye.

Daar’s so baie ander onthougoed ook. Maar dis die goed wat ek vir nou onthou. Ek onthou tannie Mart Rainier, Marné se ouma, se huis op die hoek. Ek onthou die visdammetjie in die glasvertrek in haar huis. Ek onthou die groot bome in haar tuin en haar kombuis. Daar was altyd vir ons iets lekkers om ons honger koshuismae te vul. Vir twaalf jaar lank.

Ek onthou die atletiekseisoen, mnr. Jorrie en die waterwese bult. Op hardloop, af stap. Totdat jou bene nie meer wil nie. Ek onthou die reuk van hotdogverkope by die skool. Dit was gewoonlik op ‘n Vrydag. Daar was min dinge so lekker soos ‘n gekoopte skoolhotdog.

Dis ‘n klomp deurmekaar onthou. Op daai noot onthou ek weer tuisgemaakte doopsouse. Dit het uitgesterf. Seker om gesondheidsredes. My reseppie was mayonnaise, tamatiesous en baie aromat, genoeg aromat. Dis die dae toe aromat nog vol MSG was. Toe was ‘n Simba chippie niks sonder ‘n ou doopsousie nie…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep