Chameleon: 110% Afrikaans
Sondagoggend nooi Van Heerden en Micha ons na Chris
Chameleon by Neetlingshof – deel van die Woordfees, Sondagaand. Dis ‘n
buitelugkonsert. Ons wik-en-weeg eers verskriklik. Ons het eintlik reeds ‘n
koffie afspraak. Sondagaande is heilige tyd in ons huis. Ons is sommer net
rustig en berei onsself sielkundig voor vir wat die week ookal mag inhou.
Maar Chris Chameleon het gisteraand my lewe verander!
Dalk is ek besig om ‘n raps te oordryf, maar dit was werklik
‘n voortreflike vertoning. Ons vertrek Sondagnamiddag uit Wellington met lywe
wat tam is van die hitte. Ons bakkie se lugversorger hol op vier strepies. Hoe
nader ons aan Stellenbosch kom, hoe koeler raak dit. Toe ons ons oor die bult
by Cloetesville ry, lyk dit selfs na reën. Die wind waai teen ek weet nie
hoeveel knope nie. (Baie knope dink ek!) Selfs toe ons by Neetlingshof se hekke
deur, lyk dit na ‘n onplesierige aand.
Ons skrop vinnige nes saam met Micha en Van Heerden.
Kampstoele, piekniekkombersies en versnaperings vir die kinders. Die mans
verdwyn en is vinnig terug met pizza en rooiwyn. Die wind het ‘n yskoue byt. By
tye is daar selfs klammigheid in die wind.
Chris Chameleon se stem en verhoogspersoonlikheid kom maak
die hele Neetlingshof warm. Daar’s genoeg hitte vir Stellenbosch, selfs dalk
die Boland! Hy werk soos ‘n “gentleman” met ons taal. Hy is trots Afrikaans,
nie windgat Afrikaans nie. Hy praat die taal suiwer, maar nie op ‘n manier dat
dit jou iewers ‘n pyn gee nie. Dit maak jou eerder hunker na ‘n tyd toe ons
almal nog ‘n ordentlike Afrikaans gepraat het. Dit skep die begeerte om weer só
te praat.
Afrikaans is heeltemal beskrywend genoeg, besef ek toe ek
deur die woordeboek blaai. Dis nie noodwendig regtig nodig om “awesome, cool,
stunning” en hulle maters te leen om onsself beter uit te druk nie. Ons taal is
bekoorlik, minsaam, hartlik en vrygewig genoeg.
Daniël sit deur die hele vertoning soet op my skoot,
toegevou in ons piekniekkombers uit Skotland van baie seisoene gelede. Hy klap
sy handjies uitbundig by tye. Chris Chameleon se vertoning sluit af met Sarel
Fourie (Fiktiewe popster deur Chris Chameleon vertolk). Amé, Luca en Nina
spring opgewonde op-en-af tot die laaste note van Sarel se Dinky-liedjie
wegsterf.
Oppad huistoe hou ons nabetragting, een van my gunsteling
aktiwiteite! Ons koop Macdonalds koffie vir lekker gesels. Ons sal kinders
grootmaak wat ordentlik Afrikaans praat, én ordentlike Engels. Nie ‘n mengsel
daarvan nie, besluit ons beslis.
Want Afrikaans-praat
is nie iets waaroor ons verder skaam hoef te wees nie. Ons is trots, dog
nederig Afrikaans. Ons ag ons nie beter as enige ander taal nie. Ons is trots
deel van die reënboog.
my taal word
nie meer gepraat nie
ek hoor haar
klank nie meer op straat nie
sy word aan
bande
gelê dis
seker
oor die
skande
van haar
sprekers
my hart het
in my taal groot geword
daarsonder skiet
my gevoel te kort
my leed en
hoop in klank vervat
die melodie
van haar woordeskat
en as ek
droom
dan droom ek
in my taal
en as ek
saans voor ek gaan slaap
met my God
praat dan praat ek in my taal
hy verstaan
(Taal van die
liefde – Chris Chameleon)
Comments
Post a Comment