Chappie-papiertjies jok soms vreeslik


Iewers lank gelede het ek een maal in ‘n geel Chappie papiertjie se “Did you know” gelees dat ‘n mens begin breinselle verloor vanaf die ouderdom 30. Die gedagte was absoluut vreesanjaend. Ek kon selfs na 30 voel hoe my breinselle daagliks verminder. Ek het gewonder hóé min breinselle jy teen die einde van jou leeftyd oor het.

Toe ontmoet ek my skoonouers en die Chappie-papier feit maak glad nie meer so lekker sin nie. (Skuus pappa, pappa tel nog nie hier nie. Eers na 60 kwalifiseer om my storie lekkerder te maak!) Hulle is vol ondernemingsgees en interessante idees en planne. Ek begin draf soggens saam met ‘n drafgroep en oom Danie draf stof in ons oë terwyl hy intelligente gesprekke voer. Oom Danie is ook al verby 60.

Bogenoemde het die hoop in my laat opvlam.

Emsie stel my anderdag voor aan: Healing begins with the sanctification of the heart, geskryf deur Dr. MK Strydom. Niks wolhaar feite nie, weldeurdagte navorsing met teksverwysings uit die Bybel. Die boek is hier by die 600 bladsye en kos ‘n paar rand. Ek het dit gisteraand begin lees en trek maar op bladsy 30, maar is lus om iets op gumtree te verkoop sodat ek die boek kan koop!

Sit jy – moenie hierdie mis nie. Ek haal hierdie direk aan – “The brain is the only organ in the body that doesn’t age…it matures. With correct use your brain should become more and more efficient as jou become older.”

Ek voel vanoggend mateloos verlig. My breinselle voel ook sommer, by die aanhoor van die verblydende nuus, vanoggend aansienlik meer.

Dr. Caroline Leaf (Neuroloog)  vertel die storie van ‘n 80-jarige man wat ‘n vlieënier was. Hy moes uittree weens sy swak sig. Toe gaan studeer hy weer en raak ‘n CA. Op 84 het hy weer by ‘n kantoor ingestap om sy nuwe beroep te beoefen. Dit maak my optimisties opgewonde. Wie weet waartoe ek instaat is op 80? Dr. Strydom sê verder in haar boek – “You must not retire, you must re-fire!”

Sjoe.

Nuwe navorsing het getoon dat daar ‘n verbintenis is tussen gesondheid en intellek. Verder kan jy self besluit hoe intelligent jy wil wees. ‘n Intelligente brein is ‘n geoefende een. Daar het gisteraand vir my ‘n nuwe wêreld ontvou. Ek wíl gesond en intelligent wees. Blykbaar is dit nie my gene wat die bepaler sal wees op die einde nie.

“As a man thinks in his heart, so is he.” (Proverbs 23:7)

Ek los jou hier. Met iets om oor opgewonde en dankbaar te wees hierdie naweek. Gaan koop ‘n boek, moenie Die Burger môre misloop nie, kry Suduko, kom by die voete van Jesus. Raak jonk en slim en gesond in jou kop.

Chappie-papiertjies jok soms vreeslik.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep