Fast en Easy aan die orde van die dag...


Ons  word Woensdag genooi vir na- werk drankies. Dis ‘n Veertigste. Dis vir my ‘n absolute nuutjie – ons eerste vriende raak 40. Ek het Woensdag besluit dat ek mal is oor hierdie nuwe seisoen van veertigste verjaarsdae. Almal by die partytjie is ‘n raps ouer. (Ouer as 30) Byna almal het kinders. Byna almal slaap min. Byna almal is op presies dieselfde bladsy. Dis so lekker, want ons praat dieselfde taal.

Die partytjie is feestelik. Motors staan die straat vól. Mareli en Rudi kán partytjie hou. Gaste word trakteer op die beste wyn en beste spyse. Die vuurtjie en musiek dra by tot die feestelikheid.

Ek en Marlize gesels mekaar iewers gedurende die aand raak. Sy is van daardie mense wat jy wil in huur om jou partytjie lekkerder te maak. Sy en haar man. Diè spog met ‘n stem wat enige dag by RSG kan begin uitsaai.

Marlize is ‘n Noord-kaper gebore. Ons gesels sommer oor die vinnige pas van die lewe. Sy moet erken, begin bieg sy. As jy op haar google-history ingaan, is daar ‘n FAST agter alles wat sy google. “How to lose weight FAST,” “How to cure a cough FAST,” alles kry daai FAST agterna. Ek giggel uit my maag, want agter al my googles is weer EASY. Ons soek net FAST en EASY oplossings vandag.

Hoe hartseer.

Ons maak kinders groot wat dink FAST en EASY is die enigste manier!Met selfone wat altyd byderhand is, kan jy enigiets, enige tyd, google. My pa vertel anderdag van ‘n vriend van hom wat so ontsteld was oor google. Hy is vir die eerste keer Oupa en spreek sy dogter toe aan oor hy dink sy kleinseun kry nie genoeg borsmelk in nie. Dis waarskynlik waarom hy so kriewelrig is. Toe vertel sy dogter hom terug dat sy die storie gegoogle het en die kind kry oorgenoeg melk in.

Wat weet google tog nou van borsmelk, wou my pa se vriend ontsteld by hom weet.

Anderdag sien ek hierdie bordjie by ‘n koffiewinkel.


Hóógtyd.

Selfone in koffiewinkels en langs ‘n eettafel en om ‘n braaivleisvuur is sommer ‘n ongeskikte ding. Google kan mos nie altyd die beste antwoord hê nie, en FAST en EASY kan nie altyd die beste opsie wees nie.

Dalk moet ons teruggaan na ons wortels Marlize en gaan leer. In Kakamas en Kuruman gebeur goed nie altyd FAST en EASY nie. En ons het baie goed uitgedraai. Soms kom niks by tydsaam en deugsaam nie. Dis waardes waarmee ons grootgeraak het. Dis waardes waarmee ek my kinders graag sal wil grootmaak.

Dit moet by my begin.

{Mareli en Rudi – ons almal het Woensdag van FAST en EASY weggeglip onder jul groot boom met die lekker vuurtjie. Die gesels was so lekker dat ons skóón vergeet het van tyd én selfone;-)

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep