Lente DECLUTTERTING

Clutter is in ons DNA. Ouma Susie, ek’s haar naamgenoot, was absoluut die moeder van clutter. By haar voordeur was altyd van daardie groen paddatjies wat alte gesellig op ‘n bankie sit en jou vriendelik groet so met die intrapslag. Daar was die goetertjies teen die muur, bordjies in die potte en so kan ek voortgaan. Dit was destyds geen grap om ons grootwordhuis op te ruim na my ma na haar hemelse huistoe is nie. Toe trouklokkies weer vir my pa lui, moes ons sorteer, wegsmyt en uitdeel. Daar was so baie goeters.

Nou veg ons sussies dieselfde stryd.  Want Clutter is in ons DNA. Clutter is oudmodies en onnodig. Marie Kondo, ‘n fyn Japannese dametjie, het die appelkar kom omsmyt. Sy’t besluit: Kláár met clutter.

Marie Kondo het die mega best seller THE LIFE CHANGING MAGIC OF TYDING UP geskryf. Gaan google haar gerus, of gaan bekyk haar webtuiste, tydingup.com .

Dis eintlik blykbaar vreeslik eenvoudig – jy moet elke item in jou huis vat en jouself afvra, bring die ding jou nog enige vreugde? Indien nie, smyt uit. Moet dit nie vir ‘n suster of broer of niggie gee nie. Dit be- clutter net weer hulle lewens. SMYT UIT. Ek lees in een van die artikels oor haar – After asking if each thing in her life sparked joy, one of KONDO’s clients got rid of her husband. Decluttering het ‘n besigheid geraak waaruit baie konsultante baie geld maak. Dis die nuutste neiging en almal spring op die wa.

My man is ook een vir declutter. Ek het ‘n paar baie sentimentele items wat hy binne ‘n oogwink sal laat verdwyn as hy die geleentheid kry. Dis eenvoudig stofvergaardertjies wat my hart regtig gelukkig maak. Daar is weinig daarvan in ons huis. Ek hou ook nie baie van opgaar nie. Dis inelkgeval nie oor die sigbare clutter in my lewe waaroor ek my verknies nie.

Ek’s meer besorg oor die clutter in my kop. Ek maak te veel lysies in my gedagtes. Ek’s eenvoudig te besig met spyskaarte en inkopielyste, swak gewoontes en onnodige gesprekke met myself. Ek wil my gedagtes declutter tot dinge wat my gees gelukkig maak en opbou.

Mag ons elkeen die lente gebruik om te declutter. Maak skoon jou huis, jou kop, jou lewe. Maak spasie vir die goeie goed wat Jesus hierdie lente vir ons elkeen in ons oor wil kom fluister.



Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep