'n Koffiestop by my niggie se koffieplek


 Saterdagoggend ry ons uit pure nuuskierigheid Worcester toe – vir koffie en koek by my niggie se nuwe koffieplek. Wat ‘n aangename verrassing.

Die koffieplek is deel van ‘n gallery en sit aan die begin van Baringstraat. Ek verloor sommer met die intrapslag my hart op die groot boom en die stoep. Enige werf met ‘n groot boom en ‘n breë stoep moet ‘n gelukkige plek wees. So glo ek.



 ‘n Groepie vroue is onder die groot boom besig met kunsklasse. Elkeen is verdiep in hul eie kunswerk. In die agtertuin vier ‘n groot groep iemand se kombuistee. Dit klink na ‘n uitbundige gedoente. En iewers tussen die groepie wat skulder en die groepie wat fees vier, skrop ons vir ons ‘n gesellige hoekie op die stoep.


Die diens is uitstekend en die kos is heerlik. Ons kinders kry spesiale aandag en geniet die koffiedrink ook terdeë. Ek en manlief smul aan heerlike reënboogkoek, en dis so lekker dat ek sowaar vergeet om dit af te neem. Spesiale aandag aan die fynste besonderhede is beslis deel van hierdie koffieplekkie. Dis van die blou gekleurde suiker, tot die fyn koekies langs ons koffie en die mooi verse wat oral neergeskryf is.



Ons gaan beslis weer Worcester toe ry vir koffie – en as jy ooit in die omtrek is, sal ek jou aanbeveel om ook te gaan inloer. Daar is van mooi skilderye tot heerlike koffie en koek en ander lekker kos tot vriendelike diens.



Welgedaan Marelize. Jy kan trots wees op jou plek. Ons sien jou sommer spoedig weer.

Kontak Marelize vir partytjies of navrae by: 082 385 9938

Coffee@Gallery, 3 Baringstraat, Worcester

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep