Hoe eet mens 'n olifant?
Marli kom vertel weer Vrydag vars nuus van Arend en Anne. Sy
het gaan foto’s neem van die hawelose
paartjie. Hulle het na die tyd skaam gevra of hulle ook asseblief een van die
foto’s kan kry – want dit sal darem lekker wees om op
‘n foto te sien hoe mens lyk.
Arend en Anne se woonplek is op ‘n stoep naby die polisiestasie. Hulle “was”
hulleself in een of ander rivier, het hulle Marli vertel van hulle lewe op
straat. Hulle beddegoed word bedags in ‘n
swartsak in ‘n boom bewaar. As hulle net
saans met ‘n vol maag kan gaan slaap, is
hulle die Here ewig dankbaar.
Anne het intussen op ‘n plaas
werk gekry. Sy wou bekommerd voor haar eerste werksdag by Marli weet hoe sy
haar hare moet “style” vir haar eerste werksdag. Marli kon nie help om
(bekommerd) te wonder of Anne met haar stewels met die effense hak haar
plaaswerk gaan aandurf nie. Dis immers haar enigste skoene.
Marli en haar Andrea vriendin het intussen ook vir hulle ‘n Bybel en kos geneem. Ek kan sien
Arend en Anne het onder hulle velle ingekruip. Ek is bang om hulle op hul stoep
te gaan ontmoet, want ek glo dieselfde gaan met my gebeur.
Maar alle haweloses is nie soos Arend en Anne nie...
Gister word ek voorgekeer deur ‘n man met ‘n
spraakgebrek wat nog boonop baie moeilik loop ook. Hy bedel vir koffie en ‘n bietjie suiker. Terwyl ek by Spar
instap roep hy agterna dat ‘n
sakkie vleis ook gaaf sal wees! Ek koop koffie en suiker en melk en iets om in
die koffie te doop. Hy ontvang die sak – nou nie
oorstelp van vreugde nie en prewel iets wat seker ‘n dankie moes wees. Terwyl ek agter die stuurwiel inklim
pla iets my. Dan besef ek wat dit is. Die kreupele is bitter vinnig van sy
gebrek genees na hy sy Spar pakkie ontvang het. Ek ry ‘n sirkel in die parkeerarea om hom dop te hou. Sy aandag
is al lank nie meer by my nie.
Dan ewe skielik sien ek hoe hy sy volgende slagoffer gewaar
en dan na haar hinkepink. Dit het sommer ‘n
slegte smaak in my mond gelaat. Hoe kan mense ander mense se goedheid so
gewetenloos uitbuit?
Marli gaan gooi gisteraand brandstof in haar motor. Sy glip
vinnig by die winkel by die vulstasie in om sommer ‘n pastei te koop vir aandete. Sy sien hoe ‘n kind kom vra vir ‘n glasie water uit die kombuis. Sy
voel dadelik jammer vir die kind. Terwyl sy haar pastei betaal pluk sy ‘n Bar One van die rak af en oppad uit
gee sy dit vir die kind. Hy druk dit sommer so met een groot hap in sy mond.
Terwyl sy in haar motor klim roep hy agterna –“Tannie,
wil tannie nie sommer vir my ‘n
pakkie chips ook koop nie.”
Ek voel so teleurgesteld na Vrydagmiddag se verraad. Wanneer
is iemand op straat se intensies suiwer? Ek wil nooit nooit nooit ‘n honger mens wegstuur nie. Maar ek
is verskriklik keelvol vir die magdom uitbuiters op straat.
Arend en Anne vertel daar is berigte dat Wellington ‘n nagskuiling gaan kry. Hulle is so
opgewonde. Teen R5 ‘n nag sal jy ‘n veilige dak oor jou kop kry. Die
span wat op die mooi stoep naby die verkeersdepartement slaap is vies oor die
vooruitsig. Jy sal R5 moet betaal vir ‘n nag.
Daar sal ook ‘n inkomtyd en reëls in so ‘n nagskuiling wees. Hulle weet regtig
nie of hulle dáárvoor
kans sien nie.
Ek’s
eenvoudig verstom.
Ek raak by tye paniekerig oor ons land, en oor hoe party
mense dink en redeneer. Maar dan – hoe eet
mens ‘n olifant? Stukkie vir
stukkie. Met mense soos Arend en Anne sal mens sekerlik happie vir happie en
stukkie vir stukkie die gety draai...
How much of life do we miss by waiting to see the rainbow before thanking God that there is rain?
-Dieter F. Uchtdorf-
Comments
Post a Comment