Saamstap




Saterdagaand langs ons braaivleisvuur praat ons oor getroudwees. Ons stem saam dis diep lekker om met ‘n spanmaat deur die lewe te gaan, maar dis nie altyd so maklik nie. Dis nie ALTYD lekker nie. Ons buurman Ryno merk toe in sy wysheid op dat hy altyd vir Yolande sê sy het NET vir hom, en hy het NET vir haar. Daarom moet hulle mooi na mekaar kyk en mooi met mekaar werk.

Dis so ‘n eenvoudige waarheid, dog so belangrik dat jy dit amper agter jou toiletdeur kan vasplak om gereeld kennis te neem.

Marli vertel vanoggend dat hulle gister vir ‘n hawelose paartjie skoene, ‘n bybel, twee pies en melk geneem het so op die Sondagagtermiddag. Toe spat die vonke behoorlik tussen Anne en Arend. Ek wil belangstellend weet of die tweetjies dan nou getroud is. Trou haweloses of hoe werk dit? Marli verduidelik die hawelose paartjies sê altyd hulle loop saam. Dit beteken hulle is saam. Haweloses kan mos nie eens saamwoon nie, want hulle het nie ‘n saamwoon plek nie.

Hulle stap sommer net saam.

Marli vertel hulle het ‘n bietjie met Arend en Anne gesels, saam met hulle gebid en toe is hulle vort. Toe Marli later weer toevallig verby hulle ry, sit hulle styf onder ‘n kombers en gesels. Ons moet nooit dink ons is te goed om iets by ‘n hawelose te leer nie. Anne en Arend se les is so eenvoudig.

Stap SAAM.

Ek en Lambrecht is maar nog net ‘n skrale amper-ses jaar getroud, maar ons weet ons het NET mekaar. En dis genoeg. Soms meer as genoeg. (Grappie Lambrecht!) Ons weet ook nou al wanneer ons nie besig is om saam te stap nie. Wanneer jy weet jy is besig om vir jou eie belange oorlog te maak, die heeltyd, stap jy voor of agter jou maat. Jy’s nie meer sy-aan-sy nie. Dis nie ‘n goeie plek om te stap nie. Die co-pilot sit immers reg langs die pilot.

My oom Stoffies het eendag by my pa-hulle gekuier op die plaas. Toe vra hy so half verras hoe hulle die gras so mooi hou. Ons spot vandag nog oor my pa se antwoord – “Ons gee die gras maar net gereeld water Stoffies.” Water!, het oom Stoffies uitgeroep. Toe beduie hy na sy vrou en sê vir haar hulle moet dit dalk bietjie vir hulle gras probeer. Die geheim is toe al die tyd net water.

Nou wil ek ook amper so sê: Dis SO eenvoudig. Langs mekaar stap en mooi werk met mekaar. Dis immers net ek en jy en God in hierdie huwelik.

Dis al.



Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep