Kinders grootmaak: die GROOT prentjie

 Amé se juffrou Helen by Kinderplaas vra hierdie week dat ek vir haar moet instaan. Sy het n ligte drafongelukkie gehad en eindig op in die hospitaal met n gebreekte arm.

Dit kos my n dag of twee by Kinderplaas om weer perspektief te kry oor my taak as mamma. Of die Here breek dit vir my oop terwyl die kleinspan hulle pousebreek in die kombuis neem. Hulle sit almal aan n lang tafel om hul pousekos te eet voordat hulle buite gaan speel.

Ek sien hoe Petrus van sy geroosterde kaas-en-hambroodjies met n maatjie deel toe die maatjie daarna vra. Ek hoor hoe Bennie en Markus land-en-sand hul boeties en sussies met mekaar bespreek. Ek sien hoe Olivia trots haar vet aarbeie vir n maatjie wys en dan vra of sy daarvan wil hê.

Later help Lize n maatjie op wat val. Bettie betig n maatjie mooi, dog beslis dat n mens nie só praat nie. Ons bak-en-brou Vrydag muffins. Ons doen dit in spanne en elkeen kry n takie. Mila bied aan om sommer alle spanne se skottelgoed te was. Ek verduidelik dat elke maatjie twee muffins gaan maak een vir jouself en een vir mamma. Petrus wil bekommerd weet Wat moet pappa dan eet? Lukas is verstom dat ek nie die verskil tussen Spiderman en Superman ken nie, en hy verduidelik die verskil breedvoerig.

Ek kyk na die spannetjie en besef net weer hoe onskuldig hulle is. Hulle bring skooltoe wat hulle by die huis sien. Ons kinders raak n uitvloeisel van wie ons is. Dis in ons hande om hulle voor te berei vir die wêreld daarbuite en daardie wêreld is nie altyd maklik en regverdig nie.

Dis nie n geringe taak nie. Ouerwees is seker diè grootste en belangrikste taak wat ons ooit sal kry.
Iewers tussen sleg slaap en vloermoere en boeties en sussies wat oor alles baklei (mekaar soms byna fisies aanrand) en kinders wat nie hul kos wil eet nie, vergeet ons waarmee ons eintlik besig is. Ons raak vasgevang in die klein prentjie. En dis nie altyd n kunswerk nie.

Dikwels, midde in ons chaos (en dis dikwels), hoor ek myself sê: Fokus op die groot prentjie Suné. Dis wat regtig saakmaak.





Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep