Vierde verjaarsdag Barbie-piekniek
Vandag hou ons ons oudste se verjaarsdagparty. Soos elke
ander jaar met elke liewe kinderpartytjie is my senuwees op. Kleinsus Marli kom
kuier vir ń “sussie-aand” en bak vir Amé
die mooiste, verleidelikste Barbie. Sy maak blinkertjie malvalekkers en sout
springmielies. Sy bring die lieflikste skuimpies van die winkel waar sy werk.
Sy maak die mooiste “Barbie-goed” terwyl ons wyn drink en kuier so om
die kombuistafel.
My middelsus bel die aand voor die partytjie – ek moet die gastelys met haar
deurwerk. Ek hoor sy is bekommerd toe sy hoor nie Lyndi of Marli gaan daar wees
nie. Iemand soos ek kan vreeslik meegevoer raak in die oomblik. As ek eers
terugsit en kuier, verloor ek fokus, verduidelik sy ongevoelig. Sy stel voor ek
stel Emsie aan om ongeskik met my te wees as ek fokus verloor. Ek kan eintlik
nie ń partytjie
aanpak sonder ń
“terugrukker” nie. Sy is jammer dat sy nou so reguit moet wees, sluit
sy af.
Ons hou ń
eenvoudig partytjie. Die gastelys is skoolmaatjies (dogtertjies), die bure
waarmee Amé amper elke
liewe dag van haar lewe speel en Karmi en Jozua saam met wie ons van geboorte
af kom. Tannie Emsie het immers Amé
se naam uitgedink! Ons hou ń
Barbie piekniek buite met net die nodigste versnaperinge en grimering. Die
wonderlikste, helderste grimering uit ń
Chinese winkel.
Ek besef ek sny die tyd fyn toe ek 25 minute voor ons
Barbiepartytjie by die partytjieplek stop. Nou moet ek nog eers alles aflaai en
uitpak. Ek sal nie paniekerig raak nie, besluit ek. Die mammas is almal oulik
en het mos self kinders. Hulle sal alles verstaan. My buurvrou het besef teen
watter “tight” skedule ek hardloop en kom stop in my stof. Terwyl ek
begin gaste ontvang pak sy partytjiekos uit en draf daarmee tafel toe.
Stil-stil organiseer sy al ons Barbiekos. Toe Amé
haar vererg vir haar maatjies wat begin springmielies eet voor die partytjie
oopgesing is, is sy die een wat die springmielies eers wegsit.
Partytjies is so ń
toets vir jou kind se maniere. Teen die derde geskenk sukkel dit tog so om
steeds entoesiasties dankbaar te wees! Om nie eers oor gasvryheid te begin
praat nie. Toe Amé
sien haar maatjies begin peusel aan die eetgoed voordat dit toelaatbaar is, het
dit so byna gelyk asof sy hulle te lyf gaan gaan! Na die tyd is dit weer elke
gas-mamma se stryd om hul dogtertjie sover te kry om dankie te sê vir ń baie
lekker partytjie. (Ongeag of die partytjie regtig lekker was!)
Na ons Barbiepartytjie help elke mamma vinnig om al die
piekniekgoed kombuis toe te dra. Alles gebeur so vinnig, want vele hande maak
regtig ligte werke. Toe alle mammas afgesien is stap ek kombuis toe vir die
laaste bietjie opruim. Toe staan my buurvrou met die besem. Besig met die
laaste stukkie skoonmaak.
Die heel laaste stukkie van hierdie dag is waar ek met ń koffie en ń stukkie
pienk Barbiekoek die dag afsluit met ń
storie. Ek prys die Here vir Amé
se oulike maatjies en pragtige mammas. Die saamkuier op die deken onder die
boom was lieflik. En flip Yolande du Toit, WAT sou ek vandag sonder jou gedoen
het. Jy het jou HELE dag aan ons Barbiepartytjie gewy.
Baie dankie!
Comments
Post a Comment