Vrydagmiddag in Wellington Spur

Dis Vrydagmiddag 15:30 in Wellington se Spur. My kinders verdien ’n Spur roomys, voel ek. Dit was ’n besige week in my lewe en hulle het regtig mooi saamgewerk. Die Spur is nog relatief stil. Agter ons sit ‘n klein gesinnetjie met pappa, mamma en eersteling. Pappa en Mamma is baie beïndruk met elke koer-geluid uit baba se mond. Dis hoe ek weet dis die eersteling. Pappa en Mamma eet van Spur se stewige maaltye, kompleet met chips en uieringe en ’n groot Coke. Blou-oog vriendelike baba knibbel saam aan chippies.

Ons kinders is uit hul nate. Ons kom nie dikwels in Spur nie. Dis niks persoonliks nie, maar ek hou nie baie van Spur se koffie nie. Wimpy sin is beter. Maar omdat vandag nie gaan oor my nie, besluit ek om maar die koffie te verduur. Dit neem ’n rukkie om te besluit wat ek sal bestel. Eintlik is ek lus vir ’n Savannah light. Dit sal ’n eerste keer vir my wees om alleen alkohol te verbruik in ’n eetplek. Dit voel nie heeltemal reg nie. Netnou kom betrap iemand bekends my hier in ons tuisdorp. Om doodeerlik te wees oorweeg ek selfs ’n gin & tonic vir ’n split sekonde.

Ek besluit teen alkohol en bestel ’n (minder lekker) Spurkoffie. Die atmosfeer is heerlik. Ons kinders raak danserig op die musiek. Ek vra vir ’n koerant, maar Zinzi beduie – Spur, no newspapers. Toe kyk ek vir die eerste keer rond, bloot omdat ek niks anders het om te doen nie. My foon het gaan vries, of my data was op. Dit wou nie verder nuusberigte oor die chaos in ons land aflaai nie.

Ek’s betyds om te sien hoe ’n ouerige oom inkom en ’n milo en ‘n groot sjokoladeroomys vir homself bestel. Ek dog eers hy wag vir iemand, maar hy drink en eet daai twee glase soet sonde man alleen op. Skuins oorkant ons sit ‘n mamma met ‘n laerskoolseun. Hy bestel ribs en chips. Sy het ‘n Jeep t-hemp aan en sy drink ‘n bier uit ‘n lang glas. Sy sit en kyk die heeltyd iets op haar helderkleurige pienk ipad. Sy hou nie op kyk toe haar seun se kos kom nie. Hy eet in stilte en sy kyk ipad.

Oorkant haar sit ‘n pragtige donkerkop in ‘n nr.8 denim met ‘n swart hemp wat net so effens oorhang. Sy drink ‘n Savannah uit ‘n wynglas en terwyl haar seuntjies hulle Spur roomyse eet, gesels sy met hulle. Die twee donkerkop boeties trek na die mamma. Eers toe die seuntjies in die speel area gaan speel, tel sy haar foon op en begin bel.

Toe ek sien hoe gemaklik en sonder skuldgevoel die mammas aan hul bier teug, is ek éérs spyt oor my koffie.

Ons het hoogstens twee maal ‘n jaar uitgeëet toe ek ‘n kind was. Dit was maar altyd in Upington se Spur. My pa het altyd een bord crumbed mushrooms bestel vir voorgereg, dan het ons heel gesin om daardie bord gesit en gedeel. Almal het altyd melkskommels gedrink. Almal het dit altyd besonders baie geniet. Dit was ‘n hoogtepunt in ons jaar. Niemand het dan op fone of ipads gelees of gesoek nie. Ons het gepraat en gelag, alle wonderlike Spur-geure waardeer, ons aan alle mense verkyk, en sommer net elke liewe oomblik geniet.


So baie dinge het intussen verander in ons samelewing. Dis tog jammer...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep