Die Here en MacDonalds

Ek slaap die vorige aand erg onrustig – net oor die gedagte dat ek ‘n hele dag alleen in Londen sal moet wees. Ek sal alle bogrondse en ondergrondse treine alleen moet aandurf. Ek sal moet padvra as ek verdwaal is. Ek sal moet rondhol met ‘n strak gesig soos almal in Londen maar doen – en nou dik ek glad nie aan.
Die volgende môre sit ek hopeloos te vroeg al op Peterborough se  stasie en wag vir my eerste trein. Gedagtig aan hoe kwaai my ma altyd was oor ‘n ordentlike ontbyt om jou dag te begin, gaan soek ek dus iets vir ontbyt. Ek besluit op ‘n tamaai groot “bountiful banana” muffin en ‘n aarbei yogisip. Na die muffin en yogisip voel ek meer optimisties oor die dag. Wat "bountiful" beteken, weet ek nie, maar die ding sit verseker 'n hup in jou stap!
My treinrit Londen toe neem so uur en ek lees te heerlik uit die Waitrose kostydskrif wat ma Elize vir my gekoop het.  Dan arriveer ek uiteindelik in Londen en raak deel van die “rat race”.
My man het my die verskillende treinlyne wat ek moet neem om my bestemming te bereik, my uit my kop laat leer. Nou moes ek hoor een van die spesifieke treine op my roete was buitewerking vir die dag. Vir ‘n oomblik voel ek paniekerig, maar besef dan dat dit my nie sal help nie. Ek sal moet plan maak. Op hierdie stadium het ek egter geen selopvangs nie, en ek kan nie eens my man bel vir versterking nie. Dis nou self deurdruk.
Wat ek egter op hierdie punt ook moet byvoeg is dat moeder natuur begin roep het…seker nou van my “bountiful breakfast.”
Ek gaan staan op ‘n stadium en soek net vir een vriendelike gesig wat lyk of hy/sy bereid is om my te help. Op hierdie stadium het ek twee dinge dringend nodig: aanwysings na my bestemming, maar dringender as dit – aanwysings na ‘n toilet! Niemand lyk eens amper of hulle tyd het om iemand in nood, letterlik en figuurlik, te help nie.
Genadiglik klim ek op die regte ondergrondse trein en bereik die laaste stasie waar ek moes kom. Nou moes ek net ‘n blok of twee stap. In welke rigting het ek nie die vaagste benul nie. Ek begin prewel sommer later hardop dat die Here asseblief nou ‘n wonderwerk moet laat gebeur. So in my staat van wanhoop kom klop ‘n Indiër man op my skouer: Kan hy help, wil hy weet. Ek lyk verdwaal. Onder normale omstandighede sou en agterdogtig wees. Nou’s my blaas te vol en ek’s te verdwaal om bang te wees. Ek verduidelik waarheen ek oppad is en wys hom die adres. Hy verduidelik die pad vinnig en maklik en ek voel sommer lus om hom dankie te soen uit pure verligting. Ek sê sommer kliphard, “dankie Here,” so met die wegstap. Nou smeek ek egter die Here dat Hy asseblief ‘n toilet oor my pad moet stuur.
Julle sal nie glo nie, toe ek uit daardie stasie stap, is die MacDonalds die eerste plek wat ek gewaar. Lewensgroot voor my. Ek het lanklaas so intens beleef hoe die Here gebed beantwoord. Ek weet uit vorige uitvaring en niggie Anneen se raad dat MacDonalds altyd 'n toilet het.
My man wil hom doodlag, want daarna het ek hom dadelik gebel en vertel dat die Here Hom aan my openbaar het in die vorm van MacDonalds en ‘n toilet!
Die rede vir my besoek aan Londen was my aansoek vir my Schengen Visa om by vriendin Lyndi in België te gaan kuier. Ek sit en wag net bietjie langer as twee ure in daardie aansoekkantoor (Dis ‘n leuen dat mens net in Suid-Afrika wag vir goed om te gebeur!). Die wag was verskriklik, maar tog ook wonderlik. Ek land terloops langs Oby van Nigerië. Later vertel ek haar van my nagmerrie rit na die aansoekkantoor. Ek vertel hoe ek myself deur die dag gebid het. Na ‘n stiltetjie vra sy my of ek dan ‘n christen is. Ek antwoord natuurlik trots dat ek wel is.
Julle moes haar gesig sien. Sy deel toe dat sy ook ‘n christen is en dat sy swaar kry in Londen omdat mense hier nie in die Here glo nie. Sy vra baie uit oor ons kerk en selgroep hier in Engeland, wat ek lees ens.
En daar gesels ons toe land en sand in die visakantoor oor Jesus.
Wonderlik hoe die Here werk…en als het begin my ‘n “bountiful muffin” en ‘n stukkende trein!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep