Vriendskap is soos donker sjokolade

Ons het mekaar die eerste keer in Vergeet-My-Nie se badkamers ontmoet. Albei was kindertjies van die platteland, half verwese so in die groot stad Bloemfontein en ver van die huis. Ons was albei eerstejaars met groot drome vir die toekoms.
Lyndi en ek het lekker maatjies geraak. Ten spyte van die geen alkohol koshuisreël het ek en Lyndi onsself Woensdagaande in haar kamer toegesluit vir ‘n glasie wyn en diep gesels. Dit was ‘n kosbare ritueel.
Toe studeer ons klaar en die lewe vat ons op ander paaie. Intussen sterf my ma in ‘n motorongeluk. Lyndi gaan België toe om daar te begin werk vir ‘n onbepaalde tydperk. Ek trou. Lyndi kry ‘n beter werksproposisie en besluit om nog langer in die vreemde te bly.
Ek besluit om vir haar te gaan kuier in haar Antwerpen spitsdakhuisie. Dis immers so maklik om hier in Engeland op die Eurostar trein te spring en enige plek in Europa te gaan besoek. So klim ek dan Donderdagaand op die Eurostar met net ‘n rugsak…vasbeslote om baie seisoene se kuiers in te haal.
Die weersiens is lekkerder as wat ek kon raai. Dis asof tyd net wegval. Ons vra vragies, ons lag en ons huil selfs ‘n bietjie saam. Ons deel probleme en probeer mekaar help met oplossings.
Vrydagaand gaan eet ons sushi en ek drink die heerlikste Kriek cherry bier. Laatnag sit en praat ons laaste prate in die bed met sakkie cappacino en van België se verruklike donker sjokolade.

Saterdag spring ons op die trein na Brugge. Hier kan jy die mooiste kant en die allerbeste sjokolade koop. Ek moet myself net keer om nie een van die lieflike kantdooprokke te koop vir ons kinders wat nog taamlik ver in die toekoms lê nie! En dan die Belgiese sjokolade straatwinkeltjies. Dis ‘n ervaring wat jy nie kan beskryf nie. Hierdie winkeltjies raak letterlike elke sintuig van jou aan. Ek het sjokolade nog nooit so intens ervaar nie!

Iewers deur die dag begin dit reën en ek en Lyndi moet skuiling soek. Ons besluit om sommer iewers ietsie te drink. Ons kon onssself natuurlik nou nie keer om van hul egte warm sjokolade te bestel nie. Hierdie warmsjokolade word nie van ‘n poeier uit ‘n blik aanmekaarbeslaan nie. In België gebruik hulle egte sjokolade. Jy kry nog raspeltjies gesmelte sjokolade onder in jou glas as jy klaar gedrink is. Dis ‘n anderster soort lekker. Dan kry jy ook chocolate sterren saam met elke bekertjie warm sjokolade. Dis sulke klein koekies.

Ons stap iewers oor die naweek verby ‘n Belg, maar op daardie stadium het ons baie lekker gelag oor iets. Die man het gaan stilstaan, na ons gedraai en toe in Nederlands gesê dat dit lyk asof ons baie lekker vriende is. Hy hoop ons sal ewig so gelukkig wees!
Sondagmôre groet Lyndi my op Brussels se treinstasie. Ek drink natuurlik nog ‘n laaste Belgiese warmsjokolade voor ons groet.
So met die wegstap deur doane besef ek: Sekere vriendskappe bly onaangeraak deur tyd en ruimte. En dis hierdie vriendskappe wat ewig soet bly soos donker Belgiese sjokolade. Ten spyte van ‘n werk en ‘n man en kinders en kos het elke vrou ‘n ander basisiese behoefte: ‘n Vriendin of twee  wat soos Belgiese sjokolade is.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep