Verlange na Boesmanlandvlaktes

Gisteraand het ‘n vreeslike ding gebeur. Ons was by bybelstudie en Miriam sit toe ‘n pragtige DVD met natuurtonele op. Natuurtonele met die sielvolle Jesus-musiek daarby. Daar was sterre en berge, die see en ‘n sonsondergang.
En toe begin ek huil. Nie van daardie saggies huile wat net trane oor jou wange loop nie. Myne was ‘n droewige huil diep uit my hart. Myne was ‘n huil van verlang.
Ek het verlang na die sterre van die Boesmanland. Somersaande was dit die kuierplek. Ons gesin kon ure lank buite om die tuintafel sit en kuier. My pa sou al vroegmiddag ‘n waatlemoen in die klipdam gaan gooi om af te koel. Vir aandete sou daar dan waatlemoen en skons of waatlemoen en muffins wees, en natuurlik ‘n vrolike kuiersessie om die tuintafel onder die sterre. Dieselfde sterre moes my al troos. Na my ma se dood het ek dikwels onder dieselfde hemelruim gesit en gehuil.
Ek het gisteraand ook verlang na die Boesmanland se vlaktes. Daar groei die niks mos heuphoogte en dis so mooi. Ek het grootgeraak met vaal vlaktes en baie stilte. Dis dalk waarom ek vandag steeds vlaktes en stilte opsoek om te dink. Ek ken die reuk van stof en rolbosse wat hartseer aangewaai kom, en ek het dit so innig lief, want dis wie ek is.
Ek het gisteraand verlang na die gronddammetjie klipgooi van ons plaashuis af. Alle boyfriends het altyd saam met my die son daar gaan sien ondergaan. In hierdie selfde dammetjie het ek ook al menigmaal alleen net in my onderklere geswem, sommer net omdat bruin modderwater soveel lekkerder swem as skoon swembadwater.
Ek het verlang na ons kombuis met die houtstoof. Wintertye was daar altyd ‘n pot sop op daardie stoof. Saam met dit sou my ma die lekkerste vetkoek maak. Vetkoek met kerriemaalvleis.
Ek sms vanoggend vir sussie Marietjie dat ek vreeslik verlang. Sy moet nuus terug sms. Dit laat my beter voel. Sy sms dat sy vanoggend bietjie gaan tuin werk. Die Boesmanlandsonnetjie skyn lekker en die weer voorspel reën vir môre en die res van die week. Sy sms dat hulle Vrydag groot gaan beeswerk en dat sy so wens sy kon my ma hemel toe bel om haar vragies te vra oor wors maak en biltong uitsny. Sy vertel ook dat haar man Stan nou al dae lank sukkel met twee simpel jakkalse. Hy kry hulle net nie gevang nie.
Ek lees dit en huil vir oulaas nog weer ‘n bietjie oor die bekende wat nou so ver is. Dan gaan maak ek vir my ‘n koffietjie en kyk uit oor ons piepklein tuintjie, sonder gras of bome. Die pienk rankrosies rank baldadig en die duifies koer gelukkig om die visdammetjie.
Die Here het groen Engeland gemaak, maar ook die Boesmanland se vlaktes. Hoe groot is die Vader wat ons aanbid. Die gedagte maak my rustig. Hy weet van my trane vanoggend.
En ek weet ek sal nog weer gaan sop en biltong eet op Makkiesplaas…al sal dit nie hierdie winter wees nie.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep