My bruin voorskoot

Ek moenie sê ek moes anders gekies het, of ek sal eendag anders kies nie. Ek moet bly wees oor wat ek gekies het. Al is dit nie die maklike, gerieflike keuse nie. Want juis die moeilike dinge, die frustrasies, die minste wees, die gee van myself, maak my veel, veel meer as iemand wat net afstof en stryk. Dit maak my ryp en volledig mens – elke dag. Dit is soos fynbos wat eers moet afbrand voordat die groen kom en die blomme weer blom.

Na my ma se dood het ek hierdie aanhaling uit een van die boekies op haar kombuisboekrak geskeur. Dit was op bloedrooi papier in haar handskrif geskryf. Ek sal seker nooit weet of dit haar eie was, of die gesegde van iemand anders miskien van RSG of uit ‘n boek nie. Ek weet net dat ek dit baie skelmpies myne gemaak het. In my kop het ek gebid dat my sussies my sal vergewe dat ek skelm kon neem uit die bietjie laaste herinneringe van my ma.

Iewers in my onderbewussyn het ek net geweet: Hierdie stukkie papier moet ek oral met my saamneem…waar die lewe my ookal sal neem.

Nie baie maande later is ek met rooi papiertjie in my dagboek, my ma se gunsteling resepteboek en ‘n handjievol foto’s saam met my man Engeland toe. Genadiglik sien mens vir groot dinge kans as jy jonk getroud is. Almal wou weet waar ek sal werk kry, maar ek het gespog dat ek bereid was om enigiets te doen – selfs rakkepak as dit moet. Vreemd hoe mens soms uitgedaag word op die dinge wat jy kwytraak…

Dis presies drie maande later in die vreemde. Ek is al die afgelope twee maande ‘n “waitress”.  Ek pak nie rakke nie. Ek maak wel cappucino’s en koffies. Ek dra ‘n wit gholfhempie werktoe met ‘n pikante bruin voorskootjie. Soms kyk ek daarna en wil sommer huil. Ek het dan soveel ander, groter drome gekoester vir myself.

Gisteraand ontdek ek weer my ma se rooi “prekie” in my dagboek. Dalk het my ma ook ander drome gehad as huisvrou wees en afstof en meisiekinders grootmaak. Tog het sy dit met soveel oorgawe en entoesiasme gedoen.

Sy het vreugde gevind in wat die Here op haar tafel gesit het. Sy het geglo dat dit juis die moeilike dinge was wat haar volledig mens gemaak het. Elke dingetjie wat gebeur is deel van God se groter plan. Ons name staan immers in Sy handpalms gegraveer. Hoe sal Hy ons dan ooit  vergeet?

My bruin voorskootjie is steeds nie vir my mooi nie, maar ek weet dat die Here die bruin voorskoot op my tafel gesit het vir hier en nou. Daar’s ‘n rede voor. Ek sal dus maak soos my ma my vanuit die hemel voorsê…ek sal vreudgde vind met my bruin voorskootjie aan.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep