Die prys van vryheid

Vandag was my laaste dag se werk by Frothy’s vir 2011. My tassie staan alweer oop onder die tafeltjie waarop my spieël staan…en my kompas staan alweer Boesmanland se rigting.

 Louise, my baas, het my gister eenkant toe geroep. Hulle wil nie my bedanking aanvaar nie. Sy en haar man het gepraat. Hulle sal my “waitress” werkie vir my oophou vir twee maande. Vir die mense in Frothy’s sal hulle eenvoudig sê ek’s op ‘n “sabbatical”. Ek sien dit as God se goeie guns dat die Engelse “customers” begin lief raak het vir my. Aanvanklik wou niemand eens met my praat nie – bloot omdat hulle nie my aksent kon verstaan. Ek skat hulle ore moes na 7maande begin gewoond raak aan die erg Afrikaanse-Engels.

 En hier maak ek vanaand die laaste keer in 2011 die koffiemasjien skoon. Ek luister ingedagte na “Rutland Radio” terwyl ek die dag se melkskuim en moer sorgvuldig afvee. Iewers diep binne voel ek die hartseer roer. Hierdie koffieplekkie was my eerste groot tree na selfstandigheid in die vreemde.

 Uitvaltyd, 5-uur, is dit al nagdonker in Stamford se strate. Ek voel nog nie na huistoe gaan nie. Ek vat dus met my sambreeltjie koers na die park langs die rivier. Dis byna ‘n volmaakte aand (Al is dit nog maar net 5-uur.) Die luggie is nie te skraal nie, ‘n misreëntjie val sag op my sambreel en gesellige kosreuke vul die lug.

 Ek is lief vir Suid-Afrika. Ek is lief vir die land se vlaktes en spasies. Ek’s versot op ons taal. Ek sal my siel verkoop vir ons goeie vleis en wyn. Ek sal deur vuur en water gaan vir my familie en my vriende is kosbare edelstene in my lewe.

 Maar iewers langs die pad moes ek kom verlief raak op Engeland. Dis ‘n vreemde liefdeverhouding. Ek ding ek het my hart verloor op Engeland se vryheid. Ek hoef nooit bang te wees vir enigiets of iemand nie. Dis soos om ‘n plaaskind op die plaas te wees. Ek kan orals gaan stap. Ek hoef ook nie my horlosie dop te hou vir wanneer die veiligste tyd gaan wees nie.  Dis altyd veilig om orals te gaan. Of altans waar ons in Stamford bly. As ek saans alleen by die huis moet bly terwyl my man iewers elders oor die water werk, is ek banger vir spoke as vir ‘n verkragter of inbreker.

 Vryheid smaak soet. Baie soet. Ek het dit laas as kaalvoetkind op Makkiesplaas geproe. Ek het vanaand besef dat ek dit vir die eerste keer nou weer geniet. Ek eet groot gulsige happe daarvan elke dag.

 Effe klam van die reëntjies kom ek by die huis aan. Ek vertel my man dat dit so lekker is om soos ‘n plaaskind te kan rondloop in die donker, dat ek vanaand alleen kon stap en reën kon ruik en diep dinke kon dink.

 Lambrecht bly lank stil voor hy antwoord: “Is mens nie maar bereid om bietjie vryheid op te gee vir son en familie en vriende nie?”

Alles het sekerlik sy eie prys…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Skuinskoekstorie en resep

die Melktert