Ons ver mamma

Drie jaar gelede op hierdie dag, rondom 15:00, sou my hele lewe verander. My perfekte lewetjie sou inmekaar tuimel.

 Die twee vorige jare op hierdie dag wou ek nie opstaan nie. Die eerste herdenking het my spesiale Nico-maatjie met my langs Langebaan se see gaan eet. Hy’t my gelos om net te wees. Alles in my het daardie oggend gepyn. Laasjaar was my man by my. Hy huil saam met my oor my ma – al het hy haar nie geken nie. Hy ken my en hy weet hoe seer my hart raak as ek oor my ma praat.

 Ek weet ek het laasnag iewers wakker geraak omdat ek myself kliphard “Mamma” hoor sê. Ek het dadelik gedink: “Ai tog, ek hoop nie Lambrecht het nou gehoor nie. Dit moes klink of ek effe van my sinne beroof is!”

 As ek by die huis was het ek en my ma en Marietjie altyd ses kilometer gaan stap na die namiddag koffie. Dit was die heel lekkerste kuiertyd. Ek onthou so helder hoe ek eendag gesê het: “Mamma, ek’s so bang mamma hou op om vir my lief te wees.” My ma het so mooi geantwoord, “Ou Surra, Mamma kan nooit ophou om vir jou lief te wees nie. Ek het jou nege maande in my maag gedra, naby my hart. Ek sal altyd vir jou lief wees.”

 Na haar dood het ek gevoel sy het ‘n leuen vertel. Sy was dan nie meer daar om vir my lief te wees nie. Vanoggend weet ek dat dit nie waar is nie. My ma het my bitterlik lief – al sit sy vanmôre bitterlik ver van my af. Ek bly haar kind en sy bly altyd my mamma, al is sy my ver mamma.

 My ma was so ons almal se lewens vol. Sy het haar hele bestaan gewy aan ma-wees. As ek vanoggend my oë toemaak ruik ek haar Red Door parfuum. Ek voel weer hoe lekker ons twee soggens vroeg in die winter kon lepellê terwyl ons wag vir my pa om ons te kom wakkermaak met melkkoffie. Ek onthou die middag wat die reën ons tydens ‘n stapsessie kom inhaal het. Ons moes onder ‘n bos skuil en my ma het met haar rug na die druppels gesit om my warm en droog te hou.

 Ek onthou hoe my ma elke jaar op Strandfontein ‘n groot pak Diddle daddles sou koop en dan alleen op ‘n rots gaan sit het. Sy het vooraf gewaarsku dat dit haar dinktyd is. Sy wou ons nie sien of hoor nie. Sy wou net bietjie vergeet dat sy ‘n ma is. As sy van haar rots kom terugstap het, was sy weer die lekker mamma wat ons ken. (Vandag dink ek sy het op so min alleentyd en dinktyd aanspraak gemaak.)

 My ma het ons leer brood insuur. Sy het ons leer hekel en brei in wintertyd. Sy het ons keurig leer tafeldek en leer koekiesbak met die koekiemeultjie. Sy het ons geleer om, om te gee vir mense. Sy het ons geleer om die beste te maak van ‘n situasie. Sy het ons geleer van tevredewees.

 Sy en my pa was ‘n wenspan, al was hulle so ontsettend verskillend.

 Ek wou nie vanoggend huil nie, maar die trane loop sommer net so vanself oor. Ek dink dis dankbare-trane. Die Here het ons bederf met die beste mamma. Sy het lank genoeg geleef om vir ons ‘n leeftyd se herinneringe te los. Hy het ander mense in ons lewe geplant om ons te dra deur ander groot gebeurtenisse in ons lewe. Die Here het ons beslis nie vergeet na my ma se dood nie.

 Ek wil vanoggend ‘n bos pienk angeliere gaan koop vir die huis – al hou ek nie so baie van angeliere nie. Dit was immers my ma se gunsteling. Vir ontbyt wil ek in die son sit en een van Lezanne se muffins met ‘n koppie soet heuningtee geniet. Namiddag kry ek werksmense vir kaaskoek en koffie oor. Tannie Barbara se kaaskoek. Vanaand wil ek mooi kosmaak vir my man. Ek wil hierdie dag koester. Ek wil dit vol pak met mooigoed.

 Dis wat my ma sou wou hê. Ek het haar goed genoeg geken om seker te wees daarvan! Net vanoggend – hierdie vroeë oggend-uur terwyl my man nog slaap en die huis doodstil is, wil ek bietjie langs die kombuistafel sit en hartseer wees met melkkoffie uit my kolwyntjie koffiebeker. Ek weet my ma sou dit ok verstaan. Ek het immers nege maande onder haar hart geleef. En toe vir amper 24jaar baie, baie naby aan haar. My hart kan mos nie anders as om te verlang…

Comments

  1. Sjoe, hoe rol die trane nou oor my wange vir jou part. Mag Ons Hemelse Pa eendag aan ons alles verduidelik. En mag Sy ontverming jou van dag tot dag dra. Hy se Hy vang al ons trane - Psalm 56:8. Baie liefde Juanita.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep