My Boesmanland verjaarsdag

Hierdie verjaarsdag was anders. Dit was nie blink en besig nie. Dit was nie propvol foonoproepe en eposse nie. Ek was in die Boesmanland. Sonder enige internet of selfoonopvangs. Die naaste koffieplekkie is in Kakamas, sowat 180km ver weg. Ek het dus ook nie gaan draaigooi in ‘n koffieplek vir koffie en koek nie.

Hierdie verjaarsdag was anderster spesiaal. Ek was by Marietjie en Stan op Millerton.

Vroegoggend het Marietjie een of ander “Lekker verjaar” CD kliphard laat speel. Sy’t by my in die bed kom klim met melkkoffie en van haar selfgebakte gesondheidsbeskuit. Die melk was ordentlike koeimelk van die buurplaas, Sarien-hulle se koeie. My pakkies het ek een-een opgeskeur en elkeen was spesiaal. Elkeen was so met die hand uitgekies na my behoeftes. In my pa en tannie Marinda se pakkie was onder andere droëwors en sjokolade liquer. Marietjie het die fraaiste blomvoorskoot gemaak vir my spesiale dag – saam met ‘n paar ander goedjies. Wilma se pakkie was vol goedjies wat ek kan inpak Engeland toe. En elke item het ‘n storietjie aan gehad. My man het my bederf met ‘n fraai ligpienk kamera. Dis nou sodat ek alle spesiale oomblikke mooi kan vaslê. Ek vermoed natuurlik ook dat hy al bietjie skaam is vir my baksteen waarmee ek foto’s neem!

Die Saterdag voor my Maandag-verjaarsdag het my pa-hulle kom kuier. Die Sondag voor my Maandag-verjaarsdag het Jacoline en Steyn, bure van Marietjie-hulle, kom inloer. Jacoline het sommer ‘n sjokoladekoek saamgebring vir my verjaarsdag. Ons het dus toe ‘n heerlike Sondagtee met tannie Marinda se melktert, Jacoline se sjokoladekoek en Marietjie se nimlike wortelkoek.

Teen Maandag met my verjaarsdag was ons dus nou al taamlik gekoek en getert! Teetyd besluit ons twee sussies tóg om nog vir oulaas te koek. Ons pak toe vir ons ‘n fles met tee, twee plastiekbakkies met koek, servette en koekvurkies en toe gaan hou ons ‘n teetyd piekniek in die veld. Net soos ons kleintyd so dikwels op Makkieplaas, ons grootraakplek, gedoen het.

Namiddag gaan sit ons in die son met maskers op ons gesigte, lang wynglase met druiwesap en tydskrifte. Ons beplan ywerig aan ons kersfeesete en versierings op die tafel. Ons besluit wanneer ons die geskenke wil uitdeel en wat ons oukersaand wil doen wat spesiaal is.

Teen Maandagaand was Marietjie moeg van bederf. Sy bring vir ons “Hot Chocolate” voor Kyknet en merk droogweg op: “Ek’s regtig nou bly jy’s amper klaar verjaar, want ek’s nou vodde bedien.”

Die verjaarsdag was anders. Baie anders. Heeldag alleen in die Boesmanland saam met my klein krulkop middelsussie. Maar die dag was perfek. Ek kon heeldag sommer net wéés in my plaasklere sonder ‘n druppel grimering. Ek kon op Stan en Marietjie se voorstoep nadink oor my lewe terwyl Boesmanlandse stilte soos ‘n wolkie oor die plaas hang.

Daar was ook bidtyd. Bidtyd vir ‘n nuwe jaar en dankie sê tyd vir die jaar wat verby is.

My Millerton-verjaarsdag was ‘n mooi een…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep