Paktyd in Blouputs
Ek was al hier, sowat vier jaar gelede. Hier amper aan die einde van Blouputs waar die hel elke dag uit jou brand. Hier waar die berge ekstra mooi en groot is. Hier waar die rivier sommer klipgooi van die pakstoor rustig vloei.
Ek het net nie vier jaar gelede gedink my lewe sal weer hier draai kom gooi nie.
Intussen het ek my ma verloor. Ek’s getroud en my pa het ook weer getrou. Ek moes leer aanpas in Engeland. Ek moes leer kosmaak sonder dorpervleis uit die Boesmanland. Ek moes leer Engels praat sodat die Britte my kan verstaan.
Baie dinge gebeur in vier jaar se tyd.
Gisteraand sit ek op die muurtjie voor my woonstel wat uitkyk oor wingerd, berg en rivier. Dit was ‘n woeste dag in die pakstoor. Die mense se hande is nog dom met die skêrtjies. Hulle het immers ‘n jaar terug laas so heeldag geknip. Ek por ‘n Tswana-vroutjie aan om vinniger te knip aan haar krat druiwe. “Die hand, hy’s moeg en lam,” kom haar antwoord versigtig.
Ek kan amper dieselfde sê – “Die kop, hy voel vanaand moeg en lam,” dink ek terwyl ek na die laaste son op die berg kyk. Dan kom die bid sommer so vanself. Ek bid vir my Engelandlewe. Ek sê dankie dat die Here my vir nog ‘n laaste keer Blouputs toe gebring het. Ek sal nie hierdie keer kla oor die hitte of oor seer voete of oor ‘n moeë verstand nie. Ek sal elke dag na die berg oorkant Oranjestroom kyk en net dankbaar wees. Ek bid ook sommer vir my man in Engeland. Hy vertel saans dat dit byna heeltyd donker is, of dit voel so. En dis heeltyd so vreeslik koud.
Toe ek voel my siel is nou leeg gebid, gaan help ek Marica die aandete tafel dek. Dis ‘n hoogtepunt van elke dag. Aandete om die tafel saam met die Klindts. Marica dek elke aand ‘n Sondagtafel met rooi strepies tafeldoek, plekmatjies en al die res. Carl en Liamé is warm, hartlike mense. Saam met hul blondekop seuntjies, Stephan en Liam, en hul pragtige meisiekind, Marica, laat hulle jou sommer gou-gou deel van die huis voel.
Linkie sorg vir goeie kos. Gisteraand was boud en braai-aartappels. Soet worteltjies, groenboontjies, bruinrys met ‘n lang sousie en gemengde groente. En dit op ‘n Donderdagaand…ek’t regtig gedink dis vet bederf.
My eerste aand in Blouputs was ek alleen in die woonstelletjie net langs hul huis. Die slaap wou net nie kom nie. Als was vreemd. Die wind het verwoed gewaai en die honde wou nie ophou blaf nie. Ten einde is ek iewers in die nag, hoed in die hand na die Klindts se huis vir ‘n rustige lêplek. Liame het my in die bed gesit soos jy met ‘n verskrikte kind doen ( Ek het dalk verskrik gelyk). Sy het my mooi toegemaak en my selfs op die wang naggesoen.
Ek kan nie onthou wanneer laas ek so op ‘n mamma- manier in die bed gesit is nie.
God loop vreemde paaie met ons lewens. Soms vat Hy ons terug na plekke waar ons nooit kon raai ons weer sal loop nie…Blouputs is immers die laaste plek waar ek verwag het om Desember 2011 te wees. En nou omhels ek elke oomblik van diè ervaring.
Comments
Post a Comment