Reën in die Boesmanland


Dit reën op hierdie oomblik in die Boesmanland. Ek weet, want my Pofaddersussie het laat weet toe die eerste druppels val en die aarde ruik na vars stof.

 Inteendeel, sy het al vanoggend laat weet dat die reënwind waai en teen middagete het die eerste donderweertjies blykbaar begin opsteek op die regte plek. Ek wou weet van elke nuwe donderweerwolk…

 Sien, reën in die Boesmanland is baie anders as reën op enige ander plek in die wêreld. Die stilte en afwagting wat Boesmanlandreën voorafgaan, grens aan heilig. Die opwinding wanneer die druppels hard op die sinkdak neerplof, is onbeskryflik. Die dankbaarheid daarna, as vuil modderspore op jou stoep kom plekmaak, verstaan net ‘n Boesmanlander.

 Ons het grootgeword met die reënklokkies op die stoep. As die klokkies klingel, waai die reënwind. As die eerste weertjies in Pofadder se rigting begin saampak, is dit goeie nuus. Dan kan jy maar op die uitkyk wees vir miere wat wanhopig kossies na hul gat dra, ‘n bloukopkoggelmander wat ver in die weer se rigting sit staar, en skilpaaie wat paar.

 Alles reëntekens, het ons by my pa geleer as ons saam met hom in sy liefling blou toyotabakkie in die veld ry. My pa het sy meisiekinders van kleins af als geleer van reëntekens. As jy ‘n Boesmanlander is moet jy reëntekens verstaan. Jy moet net.

 So met die klank van die eerste druppels op die sinkdak sou my ma aankondig: “Vanaand eet ons pannekoek.” Soet, suikersoet kaneelpannekoek.

 As die reënboog in die verte sigbaar word, moes ons gaan reënspoor ry. Dit was byna so groot oomblik as wanneer kersvader geskenke uitdeel op Kersdag. By elke reënmeter was oorlog. Wie se beurt was dit nou om die watertjies in die meter eerste te gaan bekyk. En jy moes daai reënmeter sekuur regop hou. Baie sekuur. Jy wil immers presies weet hoeveel water in die meter is.

 Sowat ‘n dag na die reën kan jy maar op die uitkyk wees vir reëngoggatjies – sulke bloedrooi, fluweelagtige, plomplyfie goggatjies. Daar was altyd kompetisie om te sien wie die meeste goggatjies kon sien.

 Nou reën dit dae aaneen in die Engelse winter. En my lus vir kaneelpannekoek wil net nie ophou nie…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep