Waar sussies ontmoet

Ons wêrelde verskil soos dag en nag. Ek woon in Engeland en sy op ‘n plaas naby Pofadder. Ek woon in ‘n piepklein regop huisie, een straat van Stamford se “High Street” af sonder ‘n beduidenis van ‘n tuin. My enigste tuin is my lieflike ligpienk Natasha-roos en my vrolike bolle wat my skoonpa vir my in Bernie se mooi handgemaakte houtbak geplant het. Haar huis het ‘n breë plaasstoep met gras en sonneblomme en angeliere wat nou uitbundig blom.

                                                       Tommie by sy swembad

 Sy maak elke dag van haar lewe boerekos. Rys, vleis en aartappels is stapelvoedsel. Saterdagaande eet hulle braaivleis. Wel, hulle eet minimum een maal per week braaivleis. Sy bak boerbrood en lê in. Sy gaan pluk wortels en beet uit hul eie tuin vir groentekos. Sy bak kleinkoekies en maak al ouma Gerrie se koekblikke tot bo toe vol. Haar huis het altyd vars koekies en beskuit. Sy lap haar man se stukkende kortbroeke met blommetjieslap en het altyd ‘n naaldwerkprojekkie aan die gang.

 Ons eet vis en hoender en vars groente wat ek met ‘n sambreel op die mark gaan uitsoek. Ons koop vleis om onsself te bederf en ons eet dit met respek. Ek bak net koekies as ek in die bui daarvoor is. Anders gaan koop ek dit sommer in die winkel oor die straat. Beskuit het ek nog nooit gebak vandag ek hier is nie. My skoonma is immers baasbakster. Ook my flukse Lezanne-vriendin stuur soms van haar heerlike gebak aan. Waarom ek nog nie my hand aan inlê in hierdie land gewaag het nie, weet ek nie. Dalk is koop net soveel makliker en vinniger en deesdae selfs goedkoper.

 Ons wêrelde is ver verwyderd van mekaar. Maar iewers ontmoet ons, want ons is susters. En bloed is dikker as water.

 Sy sms ‘n foto van hul geliefde Tommie-hond by sy nuwe “swembad” in die tuin. Ek gaan stap met ‘n sambreel ‘n draaitjie in ons naaste park en neem vir haar ‘n foto van die kasteel. Sy vertel van haar boerbrood wat so mooi gerys het. Ek spog met my repelsteeltjies wat ek op een reëndag bak. Sy sms dat sy op die stoep sit en sterre kyk op ‘n ongemaklike warm somersaand. Sy verlang sommer na Pappa en Mamma en ons klein dogtertjiedae. Ek sit toegewikkel onder ‘n kombers voor die verwarmer en verlang saam met haar na toentertyd.

Die park naby ons huis.
                                       
Iewers tussen twee sussies verdwyn die afstand tussen Stamford en Millerton…

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep