Oujaar op Pofadder

Waarheen ons sou gaan vir Nuwejaarsvieringe, was nie ‘n ligtelike besluit nie. Ons het al ons opsies opgeweeg. Die voor-en nadele van elkeen eers mooi oorweeg ten einde ons die groot besluit geneem het.

 Ons wou 2012 op Pofadder ingaan. Daai mense kan immers partytjie hou!

 Die oujaarsdans sou in die Pofadder Boereverenigingssaal wees – slap regs soos jy Pofadder in ry. Ons verneem vooraf dat Riaan van Kakamas af sal kom musiekmaak. Uit ondervinding weet ons dat Riaan sy storie ken. Dis waarom twee van ons drie sussies op Riaan se nommer gedruk het met ons troues. (Marli weet by voorbaat dat dit tradisie is. Sy sal dus nie durf waag om eers ander kwotasies aan te vra as trouklokkies vir haar lui nie!)

 Ons trek ons beste klere aan voordat ons in die pad val vir die oujaarsdans op Pofadder. Kleinsus Marli en die appel van haar oog, André, vang ‘n geleentheid saam met ons na Pofadder. Oppad begin bou ons solank bietjie gees. Manlief eet verwoed aan die Fizzers wat deel was van sy kersgeskenk (Mens kry nie Fizzers in Engeland nie en Lambrecht is versot daarop!). Blykbaar verskaf Fizzers energie en Lambrecht wou net sekermaak dat hy nie halfpad deur die aand sonder brandstof raak nie. Marli en André verslind weer die Jelly Teddies wat ons saam met Red Bulls oppad uit Kakamas by die Riado kafee gekoop het.

 Ons arriveer omtrent 7-uur in Pofadder en is die eerste mense by die dans. Dis nou as jy die vriendelike oom en tannie wat kaartjies by die deur verkoop, buite rekening laat. Dis egter nie lank nie, voordat die eerste mense drupsgewys begin opdaag. Almal is blykbaar maar van Pofadder en boere van die omliggende plase. Daar is ook ‘n handjievol mense van Aggenuys.

 Riaan kom groet ons persoonlik by ons tafel. Hy vertel van sy nuwe ligte en dat hy vanaand vir Pofadder almal op hulle voete gaan hou. Dis nie lank nie of die partytjie is in volle swang. Riaan se ligte herinner aan ‘n disco en so af-en-toe blaas hy ook bietjie rook uit. Die rook is natuurlik vir die kindertjies skouspelagtig en veroorsaak groot pret.

 Ietwat later nooi ons my pa en tannie Marinda vir ‘n shootertjie in die kroeg. Jacob en Retha, my Pofadder-sussie se bure op die plaas, is in beheer van die kroeg. Ons wil shooters hê, kondig Lambrecht aan toe ons vier by die kroegtoonbank staan. Tannie Marinda lyk ietwat ongemaklik met die shooter-drinkery. Hulle gooi enige shooters, verseker Jacob ons. Ons moet net sê wat gemix moet word.

 Ons verduidelik mooi aan my Pa en tannie Marinda dat jy die glasie se hele inhoud eenslag afsluk en dan die glasie twee keer op die toonbank kap. My pa geniet sy eerste shooter so dat hy glads die glasie met sy voorvinger uitlek!

 Die kosverkope is natuurlik net so ‘n hoogtepunt as Riaan se ligte en rook. Dis hotdogs, jaffles en druiwe. Nagereg is stokkieroomyse. Met elke aankope kan mens nie help om eers paar woordjies met tannie Margaret en tannie Susan te gesels nie. En dan koop jy sommer ekstra net omdat hulle so gaaf is!

 Midderdag kom te gou. Die dans en die kuier saam met my sussies, pa en die mense voor wie ek grootgeword het, is te lekker. Teen middernag het my man al soveel draaie met my op die dansbaan gemaak, hemelse draaie, dat elke een van die pak fizzers uitgewerk is.

 Ons ry na Stan en Marietjie se plaas, skuins na middernag. Ons drink natuurlik eers ‘n ou koffietjie om hul groot kombuistafel met die aankoms op die plaas sowat ‘n uur later. En my pa vra natuurlik ‘n ou stukkie boerbeskuit so saam met die koffie voor hy bed se kant toe staan.

 Oujaar op Pofadder was rook en jaffels, baie lag en dans. Dit was ‘n makietie so reg in my kraal.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep