Cream Soda in Tygervallei

Wimpy in Peterborough

Saterdagmôre, so knap voor ons terugvlieg na die koningin se eiland, besluit ek en manlief om vir oulaas ‘n swikkie te gaan maak by Wimpy in Tygervallei. Ek vra vir ‘n tafel tussen die mense, in die middel rond. Ek wil mense kyk en vir oulaas Afrikaans hóór.
 Ons het skaars gesit of Lambrecht wys met sy oë dat hy wil skuif na die eenkant tafel in die hoek. ‘n Man aan die tafel teenaan ons s’n eet half wild aan sy kaashamburger. Ek kan nie lekker besluit of sy etery my man se eetlus gaan demp of hom juis lus maak vir ‘n kaasburger nie.
 Ek skud egter my kop beslis. Vanoggend wil ek g’n eenkant sit nie. Ek wil deel wees van ons kleurvolle geroesemoes. Vir oulaas.
 Genadiglik neem dit die kaashamburger man nie te lank om sy burger te verorber nie. Intussen het Elvina kom vra wat ons sal eet. Elvina staan die gangetjie tussen die Wimpy-tafels vol, maar sy het ‘n dierbare geaardheid. Dit sal chips en ‘n cream soda wees, besluit my man maklik. In Engeland kry jy mos nie Wimpy se kaliber chips of cream soda nie! Die Wimpy het nie my eerste of tweede keuse in voorraad nie. Ten einde vra ek vir ‘n koffie-geur frappe, wat hulle toe heel toevallig wel het. Gelukkige ek!
 Teen die tyd dat Lambrecht se chips arriveer, het ons nuwe bure aan die tafel teenaan ons s’n. Dis ‘n bruin gesinnetjie. Die pappa en mamma praat Afrikaans met mekaar, en ‘n tipe Afrikaans-Engels met die kinders. Die kindertjies is heel uitbundig. Met Wimpy kryte kleur hulle rowwe hale oor die staandaard beertjie-prent. Tussendeur word groot happe “strawberry” en “bubblegum” melkskommel opgesuig.
 Elvina kom vra of ons nog oraait is. Iewers skree ‘n baba bloumoord en langs ons aan tafel praat die ma nou ‘n oktaaf harder met kwaai oë, in dieselfde Afrikaans-engels met haar jongste. Hy’t van die prent af op die tafel ingekleur. Perongeluk, neem ek aan.
 Ons is oraait. Baie oraait. Ons sit op ‘n somerswarm Saterdagmôre in ‘n oorvol Wimpy in Tygervallei waar dit so raas dat ek en my man onsself nie eens kan hoor praat nie.
 ‘n Week later sit ek in Engeland in ‘n koffieplekkie. Alles is in skrille kontras met Tygervallei se Wimpy. Almal is gepantser teen die koue in swart of grys jasse. Buite sif die reën neer. Niemand drink kleurvolle melkskommels nie. Nêrens skreeu ‘n kind nie.
 ‘n Brandmaer, effe bleek “waitress” kom vra wat ek sal drink, in ‘n perfekte Engels. Moet my “flat white” (Gewone koffie met melk) met sojamelk, laevet of volroommelk wees?
En al wat eintlik regtig hierdie Engelse koue kan besweer is ‘n bekertjie soet moerkoffie, sonder melk. Maar hoe sê mens “moerkoffie” in Engels?

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Skuinskoekstorie en resep

die Melktert