My UK leerskool
Dit het vandag vir die eerste keer gebeur. Die gewaarwording was oorweldigend. Ek het ’n vriendelike oom en tannie van Derby bedien. Hulle besoek Stamford elke twee maande. Hulle het tee en “toasted teacakes” geniet – soos die grootste meerderheid bo 60 graag doen. “Hello again” van Neil Diamond het tevrede oor “Radio Rutland” gespeel. Die sonnetjie het prentjiemooi strale gegooi oor “Ironmonger Street”. Oppad uit het die oom stadig omgedraai en geknik, “Thank you, we’ll see you in two month’s time again.” En ewe skielik besef ek: Oor twee maande sal ek by die huis wees. Ons sal iewers tussen Paarl en Stellenbosch woon. Die son sal meestal skyn en ons sal elke Saterdagaand braai. Soms Woensdae en Vrydae en Sondae ook. Ons sal in Afrikaans kerk en ek sal weer vir ’n vinnige cappuccino kan wegglip saam met ’n hartsvriendin, na die naaste “Mug & Bean.” Ons sal naweke vinnige in ons bakkie spring en Boesmanland toe ry vir asemskep. Tog was die hartseer my lyf vol. Engel