Moedersdag minus 'n oond

Gistermôre was ek al aan die deeg meng toe die voëltjies uitbundig begin raak hier teen 6-uur se kant. Dit nogal op die Sondagmôre. My “Lemon and Poppyseed” koek uit my “Hummingbird” resepteboek kon nie flop nie. Hierdie was my eerste Moedersdag waar e kook .

 Vandag moes alles perfek wees vir my ander ma se eerste Moedersdag by ons huis.

 En toe begin die oggend rampspoedig. Ek laat val ‘n eier met die vervaarde uithaalslag uit die yskas. Hy plof en spat sommer so blerts op my skoongewaste kombuisvloer. Ek vee dit half vinnig op en besluit om die res van die skade later te herstel. Dan begin ek dié koek half haastig aanmaak. By stap 5 besluit ek om net vinnig weer alles deur te lees van stap 1 af om seker te maak ek het niks vergeet nie. Ek weet nie hoekom ek stap 1 met die eerste leesslag gemis het nie. Maar ek moes by stap 1 al blykbaar die oond aangesit het om warm te raak. Toe ek so maak…gebeur daar niks. Die oond makeer iets, besef ek ietwat histeries.

 Ek gil Lambrecht plotseling wakker (En dalk ons bure aan beide kante ook) van die grondvloer van ons huisie, na vlak 2 waar die slaapkamer is. Hy kom sekondes later afgestorm. Hk lyk heeltemal gedisorïenteerd. Ek besef my gil moes na een of ander noodgeval klink. Maar hierdie was nou vir my ‘n noodgeval. My koekbeslag staan gereed om gebak te word, en die oond wil nie werk nie.

 Lambrecht besef egter vinnig, steeds halfpad deur die slaap, dat hierdie werklik ‘n krisis is. Of altans vir my. Genadiglik bedink ek vinnig ‘n plan toe ek sien hierdie oond gaan nie vanoggend nog reggemaak word nie. Ek gooi die beslag in my helderoranje mikrogolfkoekpan en steek dit in die mikrogolf. Ek besluit om maar op my sesde sintuig te gaan rakende hoe lank dit in die golfie moet wees.

 En my sesde sintuig stel toe gelukkig nie teleur nie. Ons oond het egter die res van ons spyskaart ook effe omvergegooi…

 Hierdie Moedersdag gaan vrek lekker wees, stel ek myself en Lambrecht gerus terwyl ons elkeen ‘n toatsbroodjie eet voordat ons met die kaasbord(voorgereg) en slaaie begin. ‘n Oond, of die afwesigheid daarvan, gaan nou nie ons dag bederf nie. En ‘n vrek lekker dag was dit voorwaar. Op die kaasbord was Lambrecht en skoonma se gunsteling kase, vars ciabatabroodjies van die supermark op ons hoek, druiwe uit die Wes-Kaap, bietjiie neute, olywe in die fraai groen-en-rooi nuwe olyfbakkie wat ons by skoonma en skoonpa gekry het, en ‘n stukkie “pork pie” met ‘n stiltonkaas bo-laag.

 Lambrecht het gesorg vir heerlike salmon wat eintlik in die oond voorberei moes word. Hy moes dit noodgedwonge panbraai, en steeds was dit héérlik! Saam met ‘n Griekse slaaitjie en gerookte spek knoffel “baby potatoes”. En wyn.

 Nagereg was die koek waarop ek so trots was. “Lemon and Poppyseed” koek. Ek het ook ‘n klein sjokolade fudgekoek gaan koop – net vir ingeval myne nie sukseslvol was nie. Ons het koek saam met “clotted cream” geëet.

 Ons het heeltyd gelag. Dit was seker die heel lekkerste van hierdie Moedersdag. Al die lag.

 Vanoggend staan ek in ‘n winkel en kyk na iets op die rakke. Die volgende oomblik ruik ek my ma agter my. Soos altyd vlieg ek om, net om te sien dis ‘n blondekop tannie wat sekerlik dieselfde parfuum dra as wat my ma gedra het. En vir ‘n oomblik voel dit of my ma net wou kom rugskuur met my en sê: “Surra, Mamma is só bly jy het so vrolike Moedersdag gehad.”

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep