Dit het vandag vir die eerste keer gebeur. Die gewaarwording was oorweldigend.
Ek het ’n vriendelike oom en tannie van Derby bedien. Hulle besoek Stamford elke twee maande. Hulle het tee en “toasted teacakes” geniet – soos die grootste meerderheid bo 60 graag doen. “Hello again” van Neil Diamond het tevrede oor “Radio Rutland” gespeel. Die sonnetjie het prentjiemooi strale gegooi oor “Ironmonger Street”. Oppad uit het die oom stadig omgedraai en geknik, “Thank you, we’ll see you in two month’s time again.”
En ewe skielik besef ek: Oor twee maande sal ek by die huis wees. Ons sal iewers tussen Paarl en Stellenbosch woon. Die son sal meestal skyn en ons sal elke Saterdagaand braai. Soms Woensdae en Vrydae en Sondae ook. Ons sal in Afrikaans kerk en ek sal weer vir ’n vinnige cappuccino kan wegglip saam met ’n hartsvriendin, na die naaste “Mug & Bean.” Ons sal naweke vinnige in ons bakkie spring en Boesmanland toe ry vir asemskep.
Tog was die hartseer my lyf vol. Engeland het my baie geleer. En hier verwys ek allermins net na die Engels.
Ek het leer vis-en-chips eet met ’n kerriesous. Ek het geleer hoe “beautiful” ‘n “fruit scone with clotted cream and jam” kan wees. Ek het leer kosmaak met mint en rissies en donker sjokolade en roket slaaiblare en salmon. Ek het leer bid vir klein wonderwerkies, soos ’n uur se oggendson op ons kombuistafel. En ek het leer dankbaar wees vir groot wonderwerke, soos ’n werk, al is dit in ’n koffieplekkie met ’n bruin voorskoot aan.
My eerste nederige selfmaak salmon poging. Natuurlik glad nie so lekker soos my man s'n nie!
Engeland leer mens baie goed.
Ek het leer huisskoonmaak saam met my man, want hier’s nie iemand wat dit vir jou gaan doen nie. Ek weet my sussies dink steeds dat ek ’n swak huisvrou is, omdat ek my man toelaat om te help in die huis. Almal doen dit egter hier. Hier’s nie rolle nie. Almal rol moue op en almal help. Ek het leer bestuur rondom sirkels. Niemand druk eens meer op ’n toeter as ek om ’n sirkel ry nie!
Engeland het my leer warm sjokolade drink. Bekers en bekers daarvan in allerhande geure: Mint, donker sjokolade, “rocky road” en wit sjokolade. Dis immers al wat die koue besweer! Engeland het my ook geleer van Pimms met baie aarbeie en vars mint, wanneer die son skyn.
Engeland het my geleer dankbaar wees vir familie. Ek lees elke sms en epos van my pa en sussies af weer, en weer en weer. Ek dink nie ek was al ooit so lief vir hulle soos nou nie. Sondae se vinnige foongeselsies koester ek week lank in my hart.
Engeland leer mens baie goed.
Ek sal sonskyn en braaivleis en boerewors en Afrikaanspraat nooit weer as vanselfsprekend aanvaar nie. Dis ’n voorreg. Ek moes eers oor die see gaan en bietjie op die Koningin se eiland woon, om dit vandag te weet.
My Engeland hoofstuk sal ek altyd koester en eendag met trots aan ons kinders vertel. Dit was voorwaar ’n “blissful and blessed” ervaring.
Comments
Post a Comment