Skou-kos is goeie kos

Upingtonskou was kleintyd gróót. Dit was ’n hoogtepunt op ons kalender.

 Ons sou sommer vir die hele naweek opruk vir die jaarlikse geleentheid. Na skool Vrydag is ons sommer so in ons skoolklere en koshuis koffers saam met my pa en ma na die Van Zyl-familie in Upington. Die Van Zyl’s het ons altyd ’n gul ontvangs gegee. Hul ruim huis is in Steenboklaan, reg langs die kanaal. Anneen sou al van anderkant die kanaal af aangehol kom, gillend, “Jippie, julle is hier!”

 Sodra ons uit ons skoolklere was, is ons skou toe. Die ooms wat by die skouhekke werk was altyd erg spraaksaam. En my pa kon altyd sulke lang, onnodige gesprekke met hulle aanknoop – terwyl ons nie kon wag om by die skou uit te kom nie. Ek ruik nog die stofreuk van baie voete op die sandgrond. Ek ruik die reuk van braaivleis, sosaties, worsbroodjies en spookasem. Ek hoor nog hoe een of ander oom aankondigings uit die skoukantoor maak. Daar was altyd ’n verlore kind in sy kantoor.

 Teen laatmiddag was die trompoppies aan die beurt. Hulle was altyd hoendervleis mooi. Na die trompoppies sou die skoukoningin en haar twee prinsesse op een of ander mooi motor oor die rugbyveld aangery kom. Dit was alles deel van die jaarlikse Upingtonskou.

 Ek onthou ook die “Merry-go-round.” Ek onthou hoe ek een jaar op die skulpies gery het en so siek was dat my susters my byna na ons bakkie moes dra. Boesmanlanders ken nie eintlik van skulpies en swaaie ry nie.

 Skou-kos was goeie kos. Die worsbroodjies het regte boerewors met baie tamatie-en-uiesous gehad. Jy sou nooit ’n worsbroodjie eet sonder om jouself te bemors nie! Die sosaties en pannekoek het ook nooit teleurgestel nie!

 Die “fair” het op Moedersdag in Stamford arriveer. Ek wou gaan deurstap, want “fair” laat my so baie aan skou dink. Die “rides” is net baie, baie meer en grênder as wat destyds op die Upingtonskou was. Die mense wat by die “rides” werk lyk ook  bietjie anders as die ooms by die skou. Hulle is almal bont getatoeër en kou hul kougom vreeslik wild.

 Ek dink die kos was sekerlik die enigste teleurstelling by die “fair.” Byna almal was besig om slap chips te eet. Elke tweede stalletjie verkoop chips en “hot chocolate” en “doughnuts.” Die stalletjies word beman deur jong mammas met hul kinders. Een dogtertjie was nog skaars grootgenoeg om oor die toonbank te bedien, maar sy was reeds besig om haar ma te help “hot chocolate” maak.

 Nie eers een stalletjie het boereworsrolle of braaivleis en sosaties verkoop nie. Die oom met die groot voorskoot wat jou probeer oortuig om nie net twee nie, maar vier sosaties  vir jou pa te koop, was afwesig. Die tannie met die koeksister en skuinskoek tafel het ontbreek. Die tannie agter die taai pannekoektafel met die tuisgemaakte voorskoot was ook nêrens te sien nie.

 Ek hou baie van “fairs,” besluit ek. Ek mis net skou-kos.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep