Lena se storie

Marietjie het vir Lena en Piet op Millerton kom kry na haar en Stan se troue. Piet was Stan se regterhand in die skaapkraal, en Lena op die werf. Lena het van huisskoongemaak tot werf gehark en blommetjies natgelei.

 Na hul troue moes Lena egter leer om bietjie terug te staan vir Marietjie – want sý wou nou die kitaar slaan op die werf. Lena het ‘n willetjie van haar eie. Daar  is geen vaste afspraak tussen Marietjie en Lena nie. Lena kom maak huisskoon wanneer sy so voel. Waneer ek kom kuier, weet Lena word daar koekies gebak en heeldag geklets in die kombuis. Dan is Lena daar. Soms kom sy net in betyds vir teetyd. Dan vee sy so paar vee oor die stoep voordat sy onder die boom gaan sit met haar tee en koekies…en dan keer sy huiswaarts.

 Soms werk Lena baie hard, sommer dat die sweet sulke stroompies langs haar gesig afloop. Anderdae is sy op ‘n “slow go”, dan merk Marietjie net droogweg op: “Lena is weer nie in ‘n skoonmaak bui vanoggend nie.”

 Daar was ook groot kontroversie oor Marietjie en Stan se eerste hondjie. Dis nou naas die skaaphonde. Sien, Tommie, hul “pug”-hondjie is baie fyn besnaard. En vandat hy die eerste vroegoggend bakkie tee in Lena en Piet se sinkskerm gekry het, is hy nou baie lief vir Lena . So lief, dat hy op ‘n stadium sy neus opgetrek het vir die water wat Marietjie vroegoggend in sy bakkie gooi. Ook het Lena se uitgebraaide afvalvleisies aanlokliker geraak as sy ander huis se hondepilletjies. Marietjie moes streng wees met Lena. “Tommie kan nie so bederf word nie Lena.”

 Dan antwoord Lena net so verleë: “Maar klein nooientjie, dis Tommie, hy vra vir die tee en vleisies.” Lena moes die week voor Marietjie en Stan se troue by ons op Makkiesplaas kom bly om te help met alle troureëlings. Saans het Lena huistoe gebel na Piet toe. Elke aand wou sy weet hoe dit met Tommie gaan.

 Sowat ‘n week gelede is Lena se suster in Kuruman blykbaar oorlede. Marietjie se hart was baie seer vir Lena se part. Sy besluit om gister vir Lena Kuruman toe te bel – net om darem te hoor of Lena oraait is. Marietjie sê Lena klink met die antwoordslag al hopeloos te vrolik vir iemand wat ‘n geliefde aan die dood moes afstaan. “ Is jy oraait Lena,” wou Marietjie besorg weet.

 Dan kom Lena se vrolike antwoord oor die telefoon: “ Klein nooientjie, die begrafnis, hy was nou rêrig lekker.”

 Marietjie kon nie haar ore glo nie. Dis nou ‘n hele gespot tussen ons twee. Ons hoop net ons begrafnisse sal nie eendag so rêrig lekker wees vir mekaar nie! Of dalk is dit ‘n lessie wat ons by Lena kan leer? Koester wat jy het terwyl dit nog dáár is. Die lewe hierna vir die wat gaan is immers iets waaroor ons kan vrolik wees vir hulle part…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep