As jy musiek hoor, onthou om te dans, die lewe gee jou net een kans.
RSG speel vrolik al van vroegoggend af in ons koue kombuisie met skoonpa se mooi affodille in die vensterbank. Terwyl ek die wasgoed uithaal, begin speel Hiepie-Haai van Jak de Priester. Ek gooi sommer die bondel klere net so op die kombuisvloer om eers van die woorde te gaan neerpen.
My “Ruff day” notablok op die yskas is die naaste.
Later gaan stap ek ‘n draai en die liedjie bly steeds in my kop. Ek begin dink aan alle riele wat ek al gedans het. Die mooi musiek wat so dikwels in my lewe speel. Musiek wat verdien om op gedans te word!
Ek onthou Vrydae in Kakamas. Ek onthou die laaste periode en die groot afwagting as jy koshuis toe stap. Jy weet die wit “double cab” staan voor die koshuis. My pa is reeds besig om die dieselkanne so te rankskik dat die koshuissakke langs die kanne kan inpas. Mamma is waarskynlik besig om die koek by die huis te versier – sodat dit gereed is vir koffietyd as ons by die huis aankom. Sy sou ons op die voorstoep inwag vir ‘n warm ontvangs, voor daar koffiegedrink is. Laatmiddag sou ons sussies saam met Mamma gaan stap en die week se stories goed deurgesels. En lag. Baie lag. Vrydagaandete is Makkiesplaas se Nelle om die kombuistafel vir kuier en deel en lag en kla. En net wéés.
Daai’s móói musiek.
Ek onthou hoe ek my man op ‘n afstand raakgesien het op 31 Des. 2009. Hy het ‘n groen kraaghempie aangehad en hy was so aantreklik. (Is steeds!) Ek onthou die dag daarna en die een daarna en die een daarna. Hoe saamwees tye net lekkerder geraak het. Vandag is niks lekkerder as saamwees op ons sitkamerbank met ‘n glasie wyn en lekker hartsgoed gesels nie.
Dis heuningsoet melodieë.
Ek het ‘n ouerhuis bygekry. My hart raak warm as ek dink aan kuiers in Newport Pagnell saam met my ander pa en ma. Ek dink aan Skoonma se ongelooflike lekker koffiemasjien koffie saam met haar beskuit. Die kombinasie loop mooi saam met Skoonpa se stories en grappe. Die lappies idees en resepte uitdeel in die kombuis raak deel van ons heerlike verhouding. Die alleen-geselsies oor hartsgoed, sommer so staan-staan in die kombuis, tussen my en my ander Ma raak iets waarna ek elke keer uitsien.
Dis ‘n nuwe, spesiale liedjie.
Die Here maak my lewe vol musiek, besef ek vanoggend. So op my stap-pad, stap ek verby ‘n prentjie wat my voete weer net wil-wil laat dans.
Dan onthou ek die laaste, belangrikste deel van die liedjie ewe skielik…
Hiepie-Haai, Hiepie-Haai,
Dis die Here wat geluk in my rigting waai.
Comments
Post a Comment