Ons wonderwerk oond

Op Moedersdagoggend het ons oond die gees gegee. Ek het egter uitgelaat om te vertel wat daardie selfde aand gebeur het…



Ek was halfpad in droomland toe ek ‘n geweldige slag in die badkamer hoor. Wanneer ek so een voet in die nou, en ander voet in my wonderlike slaapwêreld staan, kan die aarde op my val. Ek kan min omgee. Ek’s van daardie mense wat lief is vir my slaap. As ek my kop op my strepieskussing neersit is ek nie meer lus vir gesels, vriendelik wees, óf opstaan vir snaakse geluide nie.

 Die volgende oggend begroet ‘n interessante prentjie in die badkamer my.  Iets het ‘n onaardige “chip” uit ons wit wasbakkie geval. Lambrecht vertel later dat sy naskeermiddel die vorige aand van die rakkie bo die wasbakkie geval het – en daarom nou die aaklige geskende wasbak.

 My moed sak sommer skoene se kant toe…nuwe stoof, nuwe wasbak. Wat nou nóg? En net daar besluit ek om vir die oond te bid. Ons kan nogal doen met ‘n wonderwerk, besluit ek.

 Ek vergeet later van die oond en berei ons aandete sommer so op die stoofplate. Woensdagoggend kry ek ‘n epos van pa Danie. Hoe gaan dit met ons, so sonder oond en met ‘n stukkende wasbak. Dis wanneer ek weer vir die eerste keer oond se gedagte kry. Ek besluit om te gaan loer hoe sake met die oond staan. Ek trek eers die deur sag agter my toe. Manlief moet liewers nie weet ek peuter alweer by die oond nie. Ek sit hom aan…en daar gaan die oond sowaar aan soos altyd!Ek kon nie wag om Lambrecht te gaan vertel nie.

 Ek dink ek het die oond reggebid.

 Ek weet my man dink soms ek is vreemd. Hy het dit weer gedink toe ek uit my nate kom vertel van ons wonderwerk oond. “Nou toe, nou kan jy begin bid vir die wasbak,” was sy pittige antwoord.

 Ek weet dis net ‘n oond. Hoe wonderlik is dit nie dat die Here selfs onbenullige gebede oor oonde beantwoord! Ek’s op ‘n plek waar ek moet begin werksoek in Suid-Afrika. Dit raak soms vreesaanjaend…

 Maar ek weet vanoggend, as die Here vir ons oond sorg, hoeveel te meer sal Hy nie vir ons nie! Hy’s reeds besig om die pad voor te berei vir ons eerste winter as Mnr. en Mev. Coetzee in die Boland.


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep