'n Ringetjie vir troos

Nege jaar gelede was die eerste Ma-en-dogteraand in Kakamas se hoërskoolsaal. Ons het etlike maande hieraan gewerk. Dit was my en my ma se droom…’n aand spesiaal vir ma’s en hul dogters.

 Die program vir die aand is haarfyn beplan. Die spreker het ons versigtig met die hand uitgesoek. Anelma het ons daardie aand aangeraak met die baie spesiale storie van haar lewe. Die aandjie is afgesluit deur Juf. Els en haar meisiekind Lené. Hulle het nog “Dankie ma” gesing. Ek onthou elke besonderheid van die aand nog so duidelik.

 Ek onthou selfs die mooi wit hempie wat ek by Wilma geleen het. Die Nel-sussies het daardie dae net plaasklere, kerkklere en dorpsklere gehad. Ons het nie ietsie meer “bling” vir ‘n spesiale aandjie gehad nie.

 Twee jaar later was Marietjie se beurt. Sy en Mamma het die aand met dieselfde entoesiasme aangepak. Hulle kon nou verbeter op my foute. Ek was nou al ‘n tweedejaar op Kovsies, maar ek het net besluit dat ek nie bereid was om Marietjie se belangrike aandjie te mis nie. Genadiglik kon ek ‘n saamrygeleentheid afbedel op die dag van die Ma-en-dogteraand. Tannie Francis-hulle het my minute voor die afskop van die aand agter die Hoërskool afgelaai. Nie Mamma of die sussies het geweet ek sal daar wees nie. Hulle was so verras. Mamma het sommer begin huil toe ek by die skoolsaal instap.

 Ons het ‘n kosbare foto van daai aand. Ek is ‘n uitbundige tweedejaar met ‘n hoë bokstert en ‘n wit hempie met ‘n helse groot somber swart roos op die linkerbors. Marli is nog ‘n laerskooldogtertjie met pokkelwangetjies en Marietjie staan agter Mamma op die foto in ‘n geleende kolletjieshemp. Mamma het haar blou hempie wat sy nog selfgemaak het aan. Ons lyk almal sielsgelukkig.

 Vanaand, op hierdie oomblik is Marli se Ma-en-dogteraand aan die gang. Marietjie is daar. Maar hierdie jaar s’n mis ek en Mamma ongelukkig. Marli het al van vroeg in die week af gesms dat sy na Mamma verlang. Sy verlang baie. Marietjie het gesms dat ek nie bekommerd moet wees nie. Tannie Tersia se dagboek is vol Ma-en-dogteraand onthougoed. Alles is onder beheer. Tannie Tersia staan in vir Mamma. Of dalk onthou sy hoe belangrike hierdie aandjie vir Mamma was. Nou wil sy die laaste van die sussies s’n perfek hê, vir Mamma.

 Marietjie sms vanoggend vroegoggend al histeries uit Pofadder  dat sy die sakkies met saadjies wat op die tafels moet kom vir alle tannies, op die plaas vergeet het. Ek sms terug sy moet kalmeer. Ons kan dit op Marli se troue eendag gebruik. Sy sms 15min later weer. Liewe Jesus moes die saadjies gou op die bakkie laai…dit sal dus nie meer op Marli se troue gebruik word nie.

 Laatmiddag stap ek na een van die mooiste en duurste koffieplekkies in ons dorp. Ek wil vanmiddag ‘n “Hot chocolate” drink. Een van hulle grotes. Ek wil dit drink op liewe tannie Tersia en twee baie dapper sussies. En 'n Ma wat ons drome en vlerke gegee het.

 Ek en Marietjie het vroeër in die week besluit dat Marli iets kosbaars van my ma verdien. Iets wat ons nie het nie. Ons het immers die ongelooflike voorreg gehad om Mamma by ons Ma-en-dogteraande te hê.

 Ons het alles van my ma al gelykop tussen ons verdeel. Alles behalwe haar juweliersware. Dit is nog toegesluit in Makkiesplaas se kluis. Teen Woensdagaand was ons dit eens dat Marli die breërandringetjie verdien wat my ma so dikwels gedra het. Een wat sy vir haarself gekoop het. Marietjie sou dit dus vanaand vir Marli gee…om te së: “Ons kan Mamma nie vanaand hier sien nie, maar ons deel graag ietsie van Mamma met jou. Ons wil hê jy moet Mamma vanaand by jou erváár.”

 My ma sal vanaand ‘n trotse Mamma daar in die hemel wees. En ek en Marietjie is ongetwyfeld baie trotse sussies!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep