Kleure-atletiek op Kakamas

Gistermiddag, hard middag, bloedig warm, ry ek verby 'n skool se kleure-atletiek. Ek vermoed dis La Rochelle sin. Die dirigente probeer hul bes om die skare op te sweep. Onderwysers skuil onder groot hoede en sambrele. Die skare lyk moeg en warm.

Dan onthou ek vir Kakamas...

Ek was nooit lief vir atletiek nie. In die laerskool was ek van die groepie sonder afstand of spoed. Van sub.A af al het ek atletiek gehaat. Ek onthou hoe juf. Marlien ons in rytjies op die gras laat staan het. As sy haar hande klap moes jy hardloop. My P.T-broek het altyd ongemaklik tussen my bene opgetrek en my bene wou nooit vinnig hardloop nie. Genadiglik het ek in die hoërskool ontdek dat bene wat nie vinnig hardloop nie, wel ver kan hardloop. En dat die 1600m 8-uur op 'n Saterdagoggend as die Kakamasson alreeds hoog sit, meer van 'n kop-ding, as 'n bene-ding is.

Ek het ook laterjare vrede gemaak met die feit dat die Here nie almal met die gawe geskape het om oor die hoogspring lat te seil nie. So moes Juf. Els vrede maak dat sommige mense net eenvoudig nie afstand kan kry in 'n sandput nie. Ten spyte van haar tegniese verduidelikings en demonstrasies. My grootste uitdaging was om slegs in die sand te land sodat die Oranjespan een punt kon kry.

Kakamas atletiek was altyd warm. Die pawiljoen het volgesit met ouers wat regtig lief is vir hul kinders, en om daardie enkele rede die hitte aangedurf het. Die dag het vroeg afgeskop met die aankoms van die dirigente. Dit was 'n hoogtepunt. H.M.O (Hoërskool Martin Oosthuizen) het 'n blou en oranje span gehad. Elke span het 'n helfte van die pawiljoen gehad. Jou ouers moes ook aan jou kleur se kant sit. Die dirigente se aankoms was altyd skouspelagtig. Ek onthou in my st.6-jaar was die tema iets met oorlog te doen. Ek onthou nie meer die "detail" nie. Ek onthou wel die musiek, die rookbomme, hulle klere en my hoendervleis!

Ek onthou die uitblinker atlete van Kakamas. Ons moes hul items vir my pa en ma merk op die dag se program. Hulle wou nie die items mis nie. In my st.6-jaar was dit Ricus Lubbe. As oom Paul Dippenaar die geweer laat klap, was dit asof iets in Ricus breek. Hy kon mens in 'n hoendervleis in hardloop. Laterjare het Jaco Swart op die horison verskyn. Die afsitter was my hele skoolloopbaan oom Paul Dippenaar. Ek sal nie eens verbaas wees as hy vandag nog steeds afsitter is nie. Jaco Swart kon ook soos 'n besetene uit daai wegspringblokke vlieg. Ek onthou nog hoe die ouens wat ernstig was oor atletiek altyd daardie wegspringblokke gehad het. Wegspringspringblokke het vrees ingeboesem op Kakamas. As jy langs iemand met wegspringblokke moes wegspring, het jy geweet: Vandag word daar stof in jou oë gehardloop!

Dan was daar atletiekkos. Ek vermoed dit sal al wees wat my pa waarskynlik van ons atletiekdae sal onthou. Dit was dikwels meer indrukkend as ons prestasie op die sportveld! Tannie Freda was altyd voorvatter in die kombuis. En sy kon maar. Veral die pannekoek het my pa opgewonde gehad. Die tannies het nooit genoeg voorraad gehad nie. Hy sou bestel, betaal en dan op die pawiljoen gaan wag. Iemand sou hom minute later roep om sy bestelling te kom optel. En dae daarna sou ons nog atletiek pannekoek en "hotdogs" eet.

Ek onthou Juf. Els se netjiese wit klere en haar breërand hoed. Ek onthou hoe netjies en voorbereid juf. Hannie altyd by hoogspring opgedaag het. Al haar lyste en skryfgoed netjies in 'n mandjie. Ek onthou die groen skadunet waaronder al die belangrike mense sit en punte werk het. Dit was ook die sitplek van die aankondiger. Mnr. Bertie het dit alle jare gedoen. Ek wonder vanoggend waar mnr. Bertie is. Sy dae van aankondig en afkondig is lankal verby.

Kakamas se atletiek het mens baie dinge geleer. Almal moes aan alles deelneem om die onderskeie items vol te maak. En wen is nie altyd alles in die lewe nie. Soms moet jy iets doen vir een punt, en daai een punt kan maak dat die Orries die Bloues op hul neuse laat kyk.

Baie inspanning vir slegs een punt kan soms die verskil maak.


Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Skuinskoekstorie en resep

die Melktert