Koekblikke wat oorloop


Life is like a ten-speed bike. Most of us have gears we never use. – Charles Schultz

 Fluks mense kan my vreeslik inspireer. Of soms net groen laat van jaloesie.

 Oor kerstyd kuier ek weer by my middelsus kort duskant Pofadder. Sommer met die eerste koffietyd pluk sy die allerheerlikste vrugtekoek uit – swaar van brandewyn en vrugte. Ek wik-en-weeg eers of ek my ongebore baba wil blootstel aan so ‘n hoeveelheid brandewyn op ‘n slag, maar dan wen my liefde vir vrugtekoek. Dis een van die beste vrugtekoeke wat ek nog geëet het. “Uit tannie Tersia se boekie. Dis haar resep. Ek het dit sommer in die sonstoof gebak,” vertel-spog sy skouerophalend. So asof vrugtekoek bak sommer maklik is.

 Die volgende dag kom Lena ewe kordaat met ‘n bos beet by die huis aan. “Klein mies, die beet, hulle skiet saad,” verduidelik sy op haar manier. Ek keer myself gelukkig voor ek Lena kan vertel dat g’n mens beet inlê tussen Krismis en nuwejaar nie. Al lê wat dan behoort gelê te word, is voete in die lug met ‘n tydskrif.

 Marietjie het geen genade nie. Daardie selfde namiddag word beet gewerk. Ek kan gerus help afskil, hoor ek haar haar onderlangs mompel. Baie teësinnig help ek haar. Dis net nie soveel pret om buite op die stoep te sit en lees terwyl jy weet jou suster baan  alleen haar weg deur Lena se bondel beet nie!

 Dan begin die inpak vir seetoe gaan. “Jy kan die koekies en beskuit inpak,”gee sy bevele terwyl sy drie bottels konfyt uit haar inlê kas haal. Korrek, daar’s ‘n kas vir haar inlê goedjies. Al ingelegdes in my huis is die drie bottels vyekonfyt en een bottel kwepers wat ek vier jaar terug uit my ma se inlê kas geërf het. Dit sal nooit geëet word nie. Eendag sal ek dit moet wegsmyt. Maar vir nou, bêre ek dit nog ‘n bietjie.

 Benewens die inlê kas, het haar huis toe ‘n koekiekas ook. Tamaai groot koekblikke wat sy nog by Stan se ouma Gerrie geërf het, staan die kas vol. “Het almal koekies in?,”vra ek verstom. “Natuurlik suster, ek en Sarien het mos saam gebak. Onthou jy nou weer? Ses soorte,”antwoord sy half geïrriteerd met my wat duidelik nie onthou het nie. Ek maak die blikke een-een oop. Opgewonde om te sien wat in elke blik weggesteek is. Marietjie en Sarien se verskeidenheid maak my skaam: Van koffiekoekies tot outydse soetkoekies. Iets vir elke smaak.

 Na ‘n welverdiende ruskans by die see kom ek by my eie huis aan. My koekblikkies lyk miniatuur teen Marietjie s’n. En daar’s niks in hulle nie. Die een het darem beskuit in wat ek vir Kersfees by Marietjie gekry het. ‘n Ander het so vyf verlore blomkoekies in wat ek vir my verjaarsdag by haar gekry het. Ons huisie lyk ewe skielik verbeeldingloos en sonder ‘n warm persoonlikheid na my kuier op Millerton.

 Die eerste Vrydagaand na ons vakansie bak ek tannie Gené se gesondheidsbeskuit. Ek maak die suiker minder en gooi ‘n handvol rosyne by. Ek vervang die sonneblomsaad met ekstra baie gevlokte amandels. Ek omhels die geur van beskuit wat bak terwyl dit ons huisie volmaak. Saterdagoggend droog ek die beskuit in ons sonstoof uit op ons agterstoep. Ek vermoed ons bure mag dalk dink ek’s vreemd…Dan begin maak ek kussingkies vir die slaapkamers. Vrolike kussings met woorde materiaal en laplint. Ek maak dit sonder ‘n patroon of strategie, maar ek stik elke steek met entoesiasme en liefde.

 Ons stempel is nou op ons huis. Dit sal jy sommer met die intrapslag ervaar. Jy sal waarskynlik ook die liefde voel waarmee als uitgedink en aanmekaar gesit is. En as jy lank genoeg bly sal jy koffie en tuisgebakte beskuit kry. My tuisgebakte beskuit.

 Ek het lank genoeg gelê en Binnelanders kyk op die bank. Hierdie jaar sal ek darem baie graag net so ietsie van Salomo se Spreuke 31 vrou wil wees.

 Spreuke 31:25-27

Alles aan haar spreek van ‘n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid;

As sy leiding gee, is dit met liefde.

Sy hou van goeie toesig oor haar huishouding. Lui is sy nie.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep