Life is like a
ten-speed bike. Most of us have gears we never use. – Charles Schultz
Fluks mense kan my vreeslik inspireer. Of soms net groen
laat van jaloesie.
Oor kerstyd kuier ek weer by my middelsus kort duskant
Pofadder. Sommer met die eerste koffietyd pluk sy die allerheerlikste
vrugtekoek uit – swaar van brandewyn en vrugte. Ek wik-en-weeg eers of ek my
ongebore baba wil blootstel aan so ‘n hoeveelheid brandewyn op ‘n slag, maar
dan wen my liefde vir vrugtekoek. Dis een van die beste vrugtekoeke wat ek nog
geëet
het. “Uit tannie Tersia se boekie. Dis haar resep. Ek het dit sommer in die
sonstoof gebak,” vertel-spog sy skouerophalend. So asof vrugtekoek bak sommer
maklik is.
Die volgende dag kom Lena ewe kordaat met ‘n bos beet by die
huis aan. “Klein mies, die beet, hulle skiet saad,” verduidelik sy op haar
manier. Ek keer myself gelukkig voor ek Lena kan vertel dat g’n mens beet inlê
tussen Krismis en nuwejaar nie. Al lê wat dan behoort gelê
te word, is voete in die lug met ‘n tydskrif.
Marietjie het geen genade nie. Daardie selfde namiddag word
beet gewerk. Ek kan gerus help afskil, hoor ek haar haar onderlangs mompel.
Baie teësinnig
help ek haar. Dis net nie soveel pret om buite op die stoep te sit en lees
terwyl jy weet jou suster baan alleen
haar weg deur Lena se bondel beet nie!
Dan begin die inpak vir seetoe gaan. “Jy kan die koekies en
beskuit inpak,”gee sy bevele terwyl sy drie bottels konfyt uit haar inlê
kas haal. Korrek, daar’s ‘n kas vir haar inlê goedjies. Al ingelegdes in my
huis is die drie bottels vyekonfyt en een bottel kwepers wat ek vier jaar terug
uit my ma se inlê kas geërf het. Dit sal nooit geëet
word nie. Eendag sal ek dit moet wegsmyt. Maar vir nou, bêre
ek dit nog ‘n bietjie.
Benewens die inlê kas, het haar huis toe ‘n koekiekas
ook. Tamaai groot koekblikke wat sy nog by Stan se ouma Gerrie geërf
het, staan die kas vol. “Het almal koekies in?,”vra ek verstom. “Natuurlik
suster, ek en Sarien het mos saam gebak. Onthou jy nou weer? Ses
soorte,”antwoord sy half geïrriteerd met my wat duidelik nie
onthou het nie. Ek maak die blikke een-een oop. Opgewonde om te sien wat in
elke blik weggesteek is. Marietjie en Sarien se verskeidenheid maak my skaam:
Van koffiekoekies tot outydse soetkoekies. Iets vir elke smaak.
Na ‘n welverdiende ruskans by die see kom ek by my eie huis
aan. My koekblikkies lyk miniatuur teen Marietjie s’n. En daar’s niks in hulle
nie. Die een het darem beskuit in wat ek vir Kersfees by Marietjie gekry het.
‘n Ander het so vyf verlore blomkoekies in wat ek vir my verjaarsdag by haar
gekry het. Ons huisie lyk ewe skielik verbeeldingloos en sonder ‘n warm
persoonlikheid na my kuier op Millerton.
Die eerste Vrydagaand na ons vakansie bak ek tannie Gené
se gesondheidsbeskuit. Ek maak die suiker minder en gooi ‘n handvol rosyne by.
Ek vervang die sonneblomsaad met ekstra baie gevlokte amandels. Ek omhels die
geur van beskuit wat bak terwyl dit ons huisie volmaak. Saterdagoggend droog ek
die beskuit in ons sonstoof uit op ons agterstoep. Ek vermoed ons bure mag dalk
dink ek’s vreemd…Dan begin maak ek kussingkies vir die slaapkamers. Vrolike
kussings met woorde materiaal en laplint. Ek maak dit sonder ‘n patroon of
strategie, maar ek stik elke steek met entoesiasme en liefde.
Ons stempel is nou op ons huis. Dit sal jy sommer met die
intrapslag ervaar. Jy sal waarskynlik ook die liefde voel waarmee als uitgedink
en aanmekaar gesit is. En as jy lank genoeg bly sal jy koffie en tuisgebakte
beskuit kry. My tuisgebakte beskuit.
Ek het lank genoeg gelê en Binnelanders kyk op die
bank. Hierdie jaar sal ek darem baie graag net so ietsie van Salomo se Spreuke
31 vrou wil wees.
Spreuke 31:25-27
Alles aan haar spreek
van ‘n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As
sy praat, is dit met wysheid;
As sy leiding gee, is
dit met liefde.
Sy hou van goeie
toesig oor haar huishouding. Lui is sy nie.
Comments
Post a Comment