Swembroek vir 'n swangerlyf

Ek het altyd uitgesien na my swangerboepie. Wat is immers nou mooier as ‘n swanger mamma met ‘n swart bikini wat trots haar  boepie wys. Of ‘n stywe rokkie wat speels om haar enkels waai terwyl sy vrolik swanger is. In tydskrifte lyk  swanger vrouens altyd so blosend mooi. Volledig vrou.

Ek gaan soek vol optimisme na my eerste swanger swembroek, of swanger bikini. Ek neem manlief nie eens saam nie. Ek wil hom immers vanaand verras met ‘n swembroek modeparade.

Met die regte swembroek sal ek vol selfvertroue saam met die res van ons sekuriteitskompleks kan swem na werk smiddae. Ek sal selfs my vel eksoties kan sonbruin by die see. Ek sien al hoe ek soos die tydskrif swanger mammas gaan lyk. Selfs my rietskraal vriendinne gaan my, my swanger lyfie beny, dink ek tevrede terwyl ek na ons naaste winkelsentrum ry.

My optimisme is van korte duur. My ontnugterting is groot toe ek besef dat Paarl mall nie noodwendig voorraad aanhou vir swanger vrouens nie – wat nog te sê ‘n verskeidenheid swembroeke. Die spieëls in aantrekhokkies is ook allermins swangervriendelik.

Ek bekyk myself met afgryse in my eerste probeerslag. My buustelyfie wat in die laaste maande met ‘n duiseligwekkende spoed vergroot het, lyk onnatuurlik in enige bikini. Ek sal Pamela Anderson laat lyk na ‘n ontwikkelende tiener. My spierwit boep lyk ook allermins fraai en oulik as dit uitbult bo ‘n bikini broekie.

Met probeerslag nommer drie is daar nie veel van my selfbeeld oor nie. Nie veel nie, is regtig versagtend gestel. Daar’s niks oor nie.  Ek sien net ‘n opblasie terugkyk van die spieël. Ek’s seker selfs my bo-arms lyk geswel. Ek lyk als behalwe so blosend en sexy soos die swangerskapsmodelle in tydskrifte.

Ek koop ten einde niks nie. Net ‘n aaklige bitter groot bra om my nuwe borsmaat in toom te hou. Oppad uit koop ek darem ‘n slush puppy om my brose siel te lawe. Die Paarl is warm, lelik warm. En ek gaan die somer sonder ‘n swembroek in. Ek sterf eerder as om lyf te wys in ‘n swembroek, besluit ek oppad huistoe.

My man tref my in ‘n verkeerde bui by die huis aan. “ Ai my engel, wat’s dan fout?” vra hy versigtig. Ek voel sommer vir hom ook ‘n bietjie vies. Hy het immers aandeel in my nuwe walvisfiguur.  “Ek het vandag na ‘n swembroek gaan soek,”antwoord ek kortaf.

“En?” wil hy nog versigtiger weet. Ek gee hom een van my lelikste kyke.

“Ek’s vet en lelik en lyk soos ‘n walvis in als wat ek aangepas het,” bieg ek in trane.

Heelwat later lê ek mismoedig voor die tv, steeds in wroeging oor my inkopiesessie. Manlief kom sit by my voete met ‘n pot room en masseer my voete rustig. Hy  het ook gesorg vir aandete – net slaai. Ek sien myself nog voor al die spieëls en sien kans vir niks anders as ‘n ligte slaai nie.

 Dan begin woel ons dogtertjie sommer so plotseling weer lekker in my maag. Manlief kan selfs sien hoe sy bultjies by my maag uitskop. Ons gaan lê op die naat van ons rûe, hande op my maag. Elke skoppie laat ons in absolute verwondering. Dis nog net soveel “magic” as die heel eerste skoppie.

“Weet jy, swangerwees is darem nie net sleg nie. En dis seker ok nou nie die einde van die wêreld dat ek nie so mooi lyk in ‘n bikini soos die swanger lyfies in tydskrifte nie,”merk ek huiwerig op na nog ‘n lekker skoppie.

“My lief, vir my is jy mooier as ooit,” antwoord manlief.

Die geheim van tevrede wees met jou lyf gedurende swangerskap is ‘n bedagsame man…en wegbly van aantrekhokkies se spieëls, besluit ek beslis.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep